Agriculture
Landbounuus-podcast: SA katoenbedryf kan met bedrywighede voortgaan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:31 Tue, 14 Apr 2020
Die uitvoer van Suid-Afrikaanse katoenvesel en wol kan voortgaan.
Dit kom nadat die uitvoer van dié landbouprodukte tydelik gestop is tydens die nasionale inperkingstydperk weens die Covid-19-pandemie. Landbou word tydens die nasionale inperkingstydperk, wat nou verleng is tot die einde van vandeesmaand, as 'n noodsaaklike diens geklassifiseer en bedrywighede kan daarom voortgaan. Skoon katoen en wol is aanvanklik nie as noodsaaklike produkte beskou nie. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het egter aan OFM-nuus bevestig dat die uitvoer van dié produkte nou kan voortgaan. Ngcobo doen 'n beroep op boere om sterk te staan tydens die nasionale inperking en om streng by veiligheidsmaatreëls te hou. Dit is belangrik dat daar plaaslik volgehoue produksie van kos is.
Katoen SA het sy kommer uitgespreek oor die negatiewe impak van die nie-uitvoer van katoenvesel, voordat die regering die groen lig daarvoor gegee het. Die uitvoer van katoenvesel, wat 'n belangrike bron van inkomste is vir produsente, is tydens die Covid-19-inperkingsmaatreëls nie toegelaat nie, omdat dit nie as noodsaaklike landbougoedere beskou is nie. Die hoofbestuurder van Katoen SA, Hennie Bruwer, het aan OFM-nuus gesê katoenvoorrade word in pakhuise geberg, omdat die uitvoer van katoenvesel, hoofsaaklik na Bangladesh en Viëtnam, nie plaasvind nie. Indien buitelandse verhandeling nie spoedig sou plaasvind nie, sou produsente aan die kortste ent trek. Volgens Bruwer sou werknemers ook daaronder lei. Hy sê die Suid-Afrikaanse katoenbedryf het in die vorige seisoen 220 000 bale gelewer, wat 'n groot verbetering is teenoor vorige jare se oeste. Die nuwe katoen-oes, wat in die komende weke gelewer word, sal na verwagting 150 000 bale vesel oplewer.
EN
Intussen sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die Landbousakekamer, Agbiz, die swak vraag na landbouprodukte deur Suid-Afrika se uitvoerlande is nou nie meer slegs beperk tot Europese en Asiatiese markte nie. Die Afrika-mark, wat in die algemeen 40% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer uitmaak, kan ook vanjaar 'n afname toon. Die Europese en Asiatiese markte is verantwoordelik vir 50% van Suid-Afrika se landbou-uitvoer van sowat R142 miljard. Sihlobo sê, hoewel die koers van bevestigde Covid-19-gevalle in ander Afrika-lande nog laag is, bestaan daar die moontlikheid van 'n afname in die vraag na Suid-Afrikaanse produkte, onder meer weens dié lande se swak geldeenhede te midde van die koronavirus.
OFM-nuus
