Agriculture
Landbounuus-podcast: AFASA ondersteun boere met Covid-19-hulp aansoekproses─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:42 Thu, 16 Apr 2020
Die African Farmers Association of South Africa, AFASA, sê die aansoekproses vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se Covid-19-hulp van R1,2 miljard vorder goed.
Hierdie hulpfonds is vir boere wat 'n omset minder as R1 miljoen uit hul boerderye verdien. Nakana Masoka, sekretaris-generaal van dié vereniging, sê hulle ondersteun boere met die aansoekproses. Daar was egter uitdagings gewees. Die aansoekproses sluit volgende Woensdag.
Die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf is bewus van sy rol in die komende maande te midde van die Covid-19-pandemie in terme van voedselsekuriteit en om op 'n volgehoue grondslag 'n goedkoop proteien, soos hoender, aan mense te verskaf. Dit is volgens Izaak Breytenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimvee-vereniging, SAPV, wat meen Suid-Afrika, soos talle ander lande, fokus nou op voedselsekuriteit. Hy sê dié bedryf sien die groter prentjie in terme van sy vermoë om kos te bly verskaf aan verbruikers. Breytenbach sê dié Suid-Afrikaanse bedryf skaaf hom teen die afname van produksievlakke weens die Covid-19-pandemie. Daar word plaaslik beplanning gedoen om 'n soortgelyke situasie te voorkom, soos wat in lande soos Duitsland, China, Italië en Ierland ervaar is ten opsigte van die afname van produksievlakke weens werknemers wat nie opdaag vir werk nie uit vrees vir dié virussiekte.
EN
'n Ware staatmaker wat bykans vir 'n kwarteeu 'n reuse rol in die melkbedryf gespeel het, Bertus de Jongh, is in die ouderdom van 70 in sy huis in Pretoria oorlede. Hy het vermoedelik 'n hartaanval gehad. Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die Melkprodusente-organisasie, MPO, sê hulle het Woensdag die slegte tyding ontvang. Hy sê De Jongh het die MPO met oorgawe en entoesiasme gevestig tot een van die leidende produsente-organisasies in Suid-Afrika. Van Dijk sê De Jongh is in 1993 as bestuurder van die destydse gedereguleerde melkraad aangestel. Dié raad het later bekendgestaan as die MPO. Volgens hom laat De Jongh 'n groot erfenis na en hy sal gemis word.
OFM-nuus
