Agriculture
Landbounuus-podcast: Minister hou virtuele vergadering om voedselsekerheid te bespreek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:38 Fri, 17 Apr 2020
Besluitnemers in verskeie Afrika-lande is ten volle bewus van die impak van die Covid-19-pandemie op ekonomieë, asook die behoefte wat daar is aan voedselsekerheid.
Dit is volgens die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, wat 'n virtuele vergadering met die direkteur-generaal van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO), QU Dongyu, die Afrika-Unie (AU) se kommissaris Josefa Sacko, en ander betrokkenes gehou het. Didiza, wat ook die voorsitter van die AU se gespesialiseerde tegniese komitee vir landbou, omgewingsake, visserye, water en landelike ontwikkeling is, het gesê dit is 'n noodvergadering en die kwessie van voedselsekerheid het hoofsaaklik onder die loep gekom. Daar is gefokus op die beperking van uitvoer, omdat dit 'n gebied is waaraan aandag geskenk moet word. Dié beperkings op landbou- en voedselhandel sal lande beïnvloed wat van invoer afhanklik is.
Die Nasionale Wolkwekersvereniging, NWKV, is in die stadium positief oor die wolbedryf te midde van die Covid-19-virussiekte en die impak van die nasionale inperking daarop. Daar is egter onsekerheid oor hoe die toekoms van dié bedryf daarna uitsien. Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, sê al word wol nie as 'n noodsaaklike produk beskou tydens die nasionale inperking nie, laat regulasies egter toe dat skape op plase geskeer kan word. Daarmee saam kan wol, wat in pakhuise is, en reeds op skepe gelaai is, nou ook uitgevoer word. Die 52 vraghouers rouwol wat uitgevoer kan word, se waarde is sowat R123 miljoen. Dit is voor die plaaslike inperkingstydperk op die nasionale veiling verkoop. Hy sê daar is in die stadium fabrieke in China wat voortgaan met wolverwerking, maar as meer regulasies soos onder meer die oopstel van die nasionale wolveiling nie gelig gaan word nie, kan dié pandemie tog 'n impak op die bedryf hê. De Beer sê produsente moet moed hou in dié uitdagende tyd en hulle moet verantwoordelik optree in 'n poging om die verspreiding van die koronavirus te voorkom.
EN
Dit is weer tyd vir Hortgro, die VinPro-stigting, die Sitrus Produsente-vereniging en die SA Tafeldruiwe Industrie, asook die Wes-Kaapse landboudepartement se gewilde, Agri's Got Talent- sang- en vaardigheidsontwikkeling-kompetisie. Caroline Poole van die Vinpro-stigting, sê, mense se welstand maak saak, en daarom ondersteun dié stigting die kompetisie, wat as die Idols van die landboubedryf beskou word. Dié kompetisie is 'n vorm van aanmoediging vir werknemers in die bedryf en bied 'n geleentheid vir hulle om te verenig met vreugdevolle sang en samesyn. Inskrywings vir dié kompetisie sluit op 17 Julie en die wenners sal op 'n spoggeleentheid in Oktober vanjaar aangewys word. Vir meer inligting, besoek die Agri's Got Talent-webtuiste.
OFM-nuus
