Agriculture
Landbounuus-podcast: #Covid-19-hulpfonds aansoeke sluit vanmiddag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:07 Wed, 22 Apr 2020
Daar is nog tyd om aansoek te doen vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, se Covid-19-hulp ter waarde van R1,2 miljard aan hoofsaaklik kleinboere.
Die sperdatum vir dié aansoeke is vandag. Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die aansoekproses sluit vanmiddag om 16:00 uur. Ngcobo sê in die stadium kan die departement nie bevestig hoeveel aansoeke al ontvang is nie, maar dit sal later bekendgemaak word. Hy doen ook 'n beroep op belangstellende groothandelaars, verspreiders of landboubesighede om môre by die departement te registreer. Hulle moet aandui watter spesifieke insette vir landbouproduksie het hulle beskikbaar. Dit is om die departement in staat te stel om die R1,2 miljard se hulp wat deur 'n koopbewysstelsel van R50 000 per boer, beskikbaar te stel. Die boere kan dan aankope by hul naaste groothandelaar, verspreider of landboubesigheid doen. Belangstellende verspreiders van dié landbouinsette kan die webtuiste, www.dalrrd.gov.za vir meer inligting, besoek.
EN
Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die burgerregteorganisasie, AfriForum, en die familieboernetwerk, Saai, het die stigting van ’n taakspan aangekondig om kos en noodsaaklike gesondheidstoerusting soos handreiniger en gesigmaskers in te samel, en te versprei. Dit sal aan behoeftige mense en instansies soos onder meer kinderhuise, tehuise vir bejaardes en klinieke in gemeenskappe oor die land heen versprei word. Die inisiatief sal ook dien as teenvoeter om onrus en plundery in gemeenskappe te voorkom. AfriForum sal verantwoordelik wees om in samewerking met Saai verspreiding op grondvlak vanuit Helpende Hand se nuutgestigte, Josef Silo's, te behartig. Dit sal daartoe lei dat items, wat Helpende Hand verpak en voorberei, so gou as moontlik by die behoeftiges uitkom. Familieboere sal skenkings by die naaste Helpende Hand Silo’s aflaai en AfriForum sal verantwoordelik wees vir die mikroverspreiding daarvan. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê hierdie inisiatief versterk ’n netwerk van rolspelers uit stede en die platteland om die mees behoeftige mense in dié tyd van nood te help. Die impak is veel groter indien bydraes en verspreidingsvermoë saamgesnoer word. Rossouw sê sommige boere, wat tans ’n surpluskosvoorraad het, wat vermors gaan word, kan dit aan dié inisiatief skenk of deur plaaslike strukture versprei.
OFM-nuus
