Agriculture
Landbounuus-podcast: Kosnood grootste bedreiging van #Covid19─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:21 Tue, 05 May 2020
Die grootste bedreiging sedert die aankondiging van die nasionale grendeltydperk weens die Covid-19-pandemie, is die kosnood onder arm en ingeperkte Suid-Afrikaners.
Dr. Theo de Jager, voorsitter van die direksie van die landbou-organisasie, Saai, sê dít, en nie die gesondheidskwessie of die aansteeklikheid van die pandemie nie, is in dié stadium die grootste bedreiging vir die land. Gemeenskappe het nie genoeg kos nie. Hy sê die landbougemeenskap het aanvanklik, in samewerking met burgerlike organisasies en kerke, asook ander betrokkenes, kospakkies versprei na gemeenskappe waar daar 'n groot behoefte is. 'n Surplus vrugte, groente en vleis is deur boere geskenk om versprei te word. Ons raai boere aan om boereverenigings of Saai te kontak in dié verband.
Intussen sê die Budget Justice Coalition-instansie die totale begroting vir maatskaplike toelaes in Suid-Afrika is geensins voldoende nie. Dié instansie meen minstens 55% van die land se bevolking van sowat 30 miljoen mense leef onder Statistieke SA (Stats SA) se armoedelyn van minder as R1 200 per maand. Volgens dié instansie, wat uit verskeie burgerlike organisasies soos Oxfam SA bestaan, is daar voor die Covid-19-pandemie beraam dat 13 miljoen mense aan honger en wanvoeding ly. Die situasie het sedert die nasionale inperking op 26 Maart, tot wanneer die verhoging van R300 per kindertoelaag onlangs ingestel is, vererger en tot die endemiese honger onder die mees kwesbare gemeenskappe in Suid-Afrika gelei. Daar is nie dringend opgetree nie en daar is nie gehoor gegee aan voorstelle van die Budget Justice Coalition nie.
EN
Daarmee saam is 'n groep vlieëniers van die inisiatief Covid Flight vol lof vir boere wat kosskenkings doen sodat dit na arm gemeenskappe versprei kan word. Felix Gosher, 'n kommersiële vlieënier, is deel van dié inisiatief wat uit 50 vlieëniers bestaan en vlugte na verlate landelike gebiede onderneem om kospakkies te versprei.
OFM-nuus
