Agriculture
Landbounuus-podcast: "Ons oorweeg nie regstappe nie" - Salba─── 11:46 Wed, 06 May 2020
Die drankreuse in Suid-Afrika oorweeg nie om regstappe teen die regering in te stel oor die voortgesette verbod op die verkope van drank nie.
Luidens Netwerk24 moet verbruikers wat tydens die inperking smag na bier of wyn dus nie 'n vinnige oplossing verwag nie. Kurt Moore, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Drankhandelsname (Salba), het in reaksie op die vlak 4-inperkingsregulasies wat nie die verkoop van drank toelaat nie gesê hulle oorweeg nie regstappe nie, maar dink dink dit is wel nodig om met die regering te skakel. Volgens hom doen Salba saam met die wynprodusenteliggaam Vinpro en die Biervereniging (Basa) voorleggings aan regeringsamptenare.
EN
Landboutoestande oor groot gedeeltes van die winterreënstreek, veral die Suidwes-Kaap, lyk swak met min reën wat nog voorgekom het. Daarmee saam was temperature betreklik hoog vir hierdie tyd van die jaar, wat die droë toestande vererger het, sê Johan van den Berg, 'n onafhanklike landbouweerkundige. Landbou.com berig hoewel groot dele van die Wes-Kaap en aangrensende dele van die Noord-Kaap oorwegend winterreën kry, strek die gebied se reënseisoen tradisioneel van 1 April tot 30 September. Die probleem uit 'n landbouperspektief, en veral graanproduksie, is dat min reën in April voorgekom het, en dus kon weinig bewerkings en aanplantings gedoen word. Die reën wat wel in April voorgekom het, was in neerslae van sowat 5 mm, wat nie die grondwater kon aanvul nie. Van den Berg së hoewel reëntoestande vir die winterreëngebied in die laaste deel van Mei verbeter, lyk reëntoestande vir die res van die seisoen gemiddeld tot ondergemiddeld.
OFM-nuus
