Agriculture
Landbounuus-podcast: Sentralisasie van skenking 'n swak plan van aksie - Agri SA─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:21 Thu, 07 May 2020
Agri Noord-Kaap se president, wat ook Agri SA se voorsitter van ekonomie en handel is, Nicol Jansen, sê die regering se voorgestelde plan om donasies en skenkings ten opsigte van die Covid-19-pandemie te sentraliseer, is 'n swak plan van aksie.
Hy meen die regering se voorneme om skenkings van die private sektor onder een vaandel te beheer is 'n poging om op dié welwillendheid van dié sektor se rug te ry en krediet daarvoor te ontvang. Hy meen private skengings gaan opdroog, want niemand is in 'n sterk geldelike posisie om hul beursies en harte op 'n volgehoue grondslag oop te maak, terwyl daar boonop onsekerheid is dat dié skenkings wel aan mense in nood verskaf word nie. Daar is ook nie beheer oor korrupsie en bedrog ten opsigte van die verspreiding van dié hulpmiddele deur die regering nie. Volgens Jansen word donateurs se vrye reg tot vrye assosiasie ook geskend.
EN
Die prys van lewende hawe wat vandeesweek op veilings behaal is, het vir die eerste keer in enkele weke 'n styging getoon. Dit is volgens Chris Derksen, wat weekliks op 'n Donderdag die veilingspryse wat op lewende hawe veilings behaal is, soggens op OFM se landbouprogram, die Agri-Uur, tussen 05:00 en 06:00 met Gerben van Niekerk, verskaf. Hy versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen sê speenkalwers onder 200 kg het R31,21 per kg en kalwers tusssen 200kg en 250kg vir R29,01 per kg gegaan. Speenkalwers oor 250kg het vir R26,19 per kg gegaan. Hy sê boklammers het gegaan vir R35,00 per kg en ooie vir R22,05 per kg.
OFM-nuus
