Agriculture
Landbounuus-podcast: Organisasie teen toekenning van hulp volgens ras─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:36 Thu, 07 May 2020
Agri SA skop vas teen die sentralisering van voedselhulp deur enige staatsinstelling of politikus en sê ook nee vir die toekenning van humanitêre en finansiële hulp op grond van ras.
Die inperkings, wat ingevolge die Wet op Rampbestuur deur die regering ingestel is, het werkloosheid en hongersnood die hoogte in laat skiet. Dit hou ‘n wesenlike gevaar vir sosiale stabiliteit en die veiligheid van Suid-Afrikaners in. Dit is volgens Christo van der Rheede, adjunk-uitvoerende direkteur van dié organisasie, wat meen Agri SA en sy meer as 90 affiliasies skenk daarom daagliks tonne kos aan mense in nood oor die land heen. Groot sorg word toegepas in die versameling en verspreiding van groente, vrugte en ander nie-bederfbare kos, terwyl die Covid-19-voorsorgmaatreëls nougeset toegepas word tydens die verspreiding. Van der Rheede sê daar was goeie reaksie op Agri SA se koshulpveldtog en dit kan nie aan bande gelê word deur burokratiese rompslomp en drakoniese maatreëls van die regering nie. Daar is ingevolge wetgewing geen nasionale verbod op hulpverlening deur weldoeners nie en geen sodanige verbod is vervat in die Wet op Rambestuur of die Covid-19-regulasies nie.
Intussen sê Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, dié organisasie gaan voort om op die ekonomiese volhoubaarheid van sy lede te fokus. Hy sê daar word op 'n voortgesette grondslag hulp aan boere in die vorm van veevoer en ander hulpmiddele in droogtegebiede in die provinsie verleen. Jansen sê Agri Noord-Kaap is as 'n droogterampgebied verklaar en die grootste gedeelte van dié provinsie het min tot geen reën in etlike jare gehad nie. Hy sê in die uitdagende toestande is daar boere en hul gesinne wat op ander vlakke ook hulp benodig. Vir meer inligting besoek Agri Noord-Kaap se webtuiste.
EN
Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte wat ten doel het om landbougemeenskappe in droogtegeteisterde dele van die land te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland kan verkry en skenkings kan doen. Geldelike skenkings of ander bydraes kan op dié webtuiste aan bestaande projekte gedoen word. Skakels van organisasies, soos Agri SA en Agri Noord-Kaap se droogtehulpfondse, is op hierdie blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry. Vir die jongste nuus, volg die hutsmerk #LandbouHoop. Deel ook jou droogtehulpprojekte met OFM en stuur 'n e-pos na [news@ofm.co.za]news@ofm.co.za of WhatsApp na 084-222-9497.
OFM-nuus
