Agriculture
Landbounuus-podcast: Koopbewyse dalk vandeesweek vir boere beskikbaar─── CHRISTAL-LIZE MULLER 15:20 Tue, 12 May 2020
Klein- en kommunale boere wat aansoek gedoen het vir die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling se R1,2 miljard Covid-19-hulpfonds, kan na verwagting vanaf vandeesweek koopbewyse begin ontvang.
Die departement se woordvoerder, Reggie Ngcobo, sê die prosessering van die aansoeke is bykans afgehandel. Hy herinner dié boere wat aansoek gedoen het om daarop te let dat geld nie aan boere verskaf gaan word nie, maar eerder koopbewyse waarmee hulle benodighede vir hul boerderye kan bekom. Intussen sê Ngcobo aktekantore oor die land heen sal na verwagting Woensdag heropen. Alle dienste sal beskikbaar wees en die indiening van vorms sal aanvaar word. Die publiek en klerke sal nie toegelaat word in geboue nie, maar hul konsultasies sal per afspraak geskied. Alle kennisgewings vir aansoeke vir afskrifte van verlore aktes word op DeedsWeb vir openbare inspeksie gelaai. Inligting sal daardeur en per e-pos aan die publiek beskikbaar gestel word.
Suid-Afrikaanse varkboere beskik oor die dryfkrag om biosekuriteit korrek te bestuur, juis omdat dit 'n kapitaal-intensiewe bedryf is. Dié boere streef daarna om die land se varkkudde gesond te hou. Johann Kotzé, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie, SAVPO, sê biosekuriteit in dié bedryf is van groot belang en word toegepas omdat produksie in 'n gekontroleerde omgewingstelsel plaasvind. Plaaslike boere is gewoond daaraan om die uitbreking van dieresiektes soos die Afrika-varkpes te bestuur. Dit sluit kommersiële, klein- en bestaansboere in. Dit kom nadat Afrika-varkpes in die Amathole-distrik in die Oos-Kaap in vyf landelike dorpies uitgebreek het. Altesaam 50 varke het reeds gevrek en beheermaatreëls word nou toegepas om oorblywende varke in kuddes van besmette varke te isoleer. Bewustheid word ook onder varkeienaars gekweek om gesondheidsmaatreëls toe te pas en die verspreiding van dié siekte te voorkom.
EN
Intussen sê Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap, daar is die afgelope naweek met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vergader oor die uitbreking van Afrika-varkpes in landelike gebiede in dié provinsie. Hy sê daar word aandag hieraan gegee.
OFM-nuus
