Agriculture
Landbounuus-podcast: Verbouing van katoen in NW vorder goed─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:43 Fri, 29 May 2020
Die verbouing van katoen in die Schweizer-Reneke distrik in Noordwes vorder goed.
Joseph du Plessis, van die Locklore gemengde-familieboerdery in dié gebied sê hy het drie jaar gelede begin om katoen aan te plant om sy mielieaanplantings stelselmatig te verminder. Hy sê al plant hy slegs die afgelope drie jaar katoen aan, het dié gewas goed in dié gebied aangepas. Hy sê die verbouingsproses van katoen is steeds 'n leerskool vir hul boerdery, maar hulle is positief oor die toekoms in terme van die aanplantings.
EN
Saai, ’n organisasie wat na die belange van familieboere omsien, het vandag in die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria sukses behaal met ’n dringende hofaansoek om die uitvoer van voëls na buitelandse markte toe te laat. SAAI uitvoerende hoof Francois Rossouw het hierdie aansoek ingedien en hoewel vlak 4-regulasies die uitvoer van alle landbougoedere ingevolge artikel 22(1)(e) toelaat, versuim die betrokke owerhede egter om die nodige permitte en vereiste sertifikate uit te reik om voëlboere toe te laat om hul voëls uit te voer. Saai het hierdie verklarende bevel suksesvol bekom namens Schalk van Wyk, wat in die Nigel-omgewing met papegaaie boer. “Ons hoop hierdie bevel baan die weg vir alle voëlboere en landbou-uitvoerders om hul bedrywighede ongehinderd voort te sit,” voeg Rossouw by. Hierdie bevel is ook belangrik selfs al nader die land vlak 3-regulasies, wat meer industriëe en regeringsfunksies toelaat om te begin werk, aangesien die regering gewaarsku het dat sekere gebiede na vlak 4 kan terugskuif indien nodig. Die bevel sal hierdie boere dan teen arbitrêre riglyne, wat hul bedryfsvermoë belemmer, beskerm.
OFM-nuus
