On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Jag by vlak 3 van inperkingsregulasies ingesluit

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:49 Tue, 02 Jun 2020

Landbounuus-podcast: Jag by vlak 3 van inperkingsregulasies ingesluit | News Article

Die jag van wild, asook besoeke waar daar self na private of openbare wildreservate en nasionale parke gery word, is ingesluit in vlak 3 van die Covid-19-inperkingsregulasies


Visvang vir ontspanningsdoeleiendes word ook deur die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye toegelaat. Albi Modise, woordvoerder van die departement, sê wildsveilings kan aanlyn plaasvind, terwyl slegs 'n maksimum van 50 mense tradisionele wildsveilings mag bywoon. Daarmee saam het SANParke 'n lys gepubliseer van toegangsbeheerde parke wat in die komende dae vir besoekers geopen sal word. Volgens Modise sal die gewone protokolle met betrekking tot sosiale distansiëring, die ontsmetting van hande en die dra van maskers geld. Die invoer en uitvoer van groeiende of gedroogde plante of monsters of produkte van diere word toegelaat en is onderworpe aan die voorskrifte wat deur die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Ebrahim Patel, uitgereik is. 

Mielieprodusente in die Wesselsbron-distrik in die Vrystaat het al plek-plek begin stroop ondanks nat toestande. Aser Nel, 'n boer van die distrik, sê dit was 'n goeie seisoen ten opsigte van sy mielie-aanplantings wat binne die optimum-plantvenster was weens goeie reën ná droogtetoestande die vorige seisoen. Daar is groot dankbaarheid vir dié bogemiddelde reën, al het dit by tye té veel gereën. Die oordragvog het veroorsaak dat enkele gedeeltes van sy aanplantings in landerye versuip het. Nel sê hy kon nog nie volstoom begin stroop nie, omdat dit op plekke nog te nat is. Nel plant ook koring aan en het vanjaar vir die eerste keer koring uit 'n vliegtuig gestrooi op 'n gedeelte van sy landerye wat té nat was om met trekkers toegang te verkry.

EN

Daarmee saam toon die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vierde produksieskatting vir somergewasse dat 'n goeie kommersiële mielieoes dié seisoen verwag kan word. Volgens dié komitee is die grootte van die oes dié seisoen meer as 15,5 miljoen ton. Dit is sowat 2,42% meer as die vorige skatting en 38% groter as die vorige nasionale mielie-oes. Die NOK se verwagte opbrengs vir mielies is 5,97 ton per hektaar. Die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes gaan na verwagting 84% van dié mielieoes lewer. Die produksieskatting vir witmielies is meer as 9,07 miljoen ton, wat meer is as die vorige skatting van sowat 8,7 miljoen ton. Geelmielies staan op meer as 6,5 miljoen ton. Dit is meer as die vorige skatting van sowat 6,4 miljoen ton.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.