Agriculture
Landbounuus-podcast: Verdagte vas ná aanval op egpaar─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:48 Mon, 08 Jun 2020
'n Verdagte, wat Saterdag in hegtenis geneem is in verband met 'n aanval op 'n egpaar op hul plaas by Reivilo in Noordwes, sal na verwagting Dinsdag in die Schweizer-Reneke landdroshof verskyn.
Polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, sê drie mans was vermoedelik betrokke by 'n aanval vroeër die dag waarin Schalk Coetzee en sy vrou, Lana, wreed aangerand en beroof is. Volgens Mokgwabone is Schalk ook met kookwater gegooi. Hy is vasgebind waarna die aanvallers met die egpaar se twee selfone, 'n bankkaart en hul voertuig op die vlug geslaan het. 'n Buurman het onraad vermoed en is daarna na die egpaar se plaashuis. Mokgwabone sê die polisie is na die toneel ontbied, waarna polisiestasies in omliggende dorpe se hulp ingeroep is. Buurt- en plaaswagte, asook gemeenskapslede het die polisie bygestaan. Hy sê een van die verdagtes het op 'n boer, wat deel was van die groep mense wat die polisie in die jaagtog ondersteun het, afgestorm waarna die boer die verdagte gewond het. Dié verdagte is in hegtenis geneem en staan tereg op 'n aanklag van die besit van beweerde gesteelde goedere en die besit van 'n onwettige vuurwapen. Mokgwabane sê twee mense is vir ondervraging deur die polisie ingeneem, maar hy kon nie bevestig om hulle in verband met die Reivilo-voorval in hegtenis geneem is nie. Die polisie-ondersoek duur voort. Volgens inligting word die egpaar in 'n hospitaal behandel.
Daarmee saam het Agri SA sy dankbaarheid uitgespreek oor die polisie se besluit om die verbod op die patrollering van gebiede deur buurt- en plaaswagte op te hef. Dit kom nadat dié organisasie, onder meer, groot druk op die regering geplaas het om die patrollering van gebiede sedert die aanvang van die nasionale Covid-19-inperkingsregulasies toe te laat. Agri SA se Tommie Esterhuyse sê daar kan nou voortgegaan word met boere se normale pligte in dié verband.
EN
Intussen sê die Vryheidsfront Plus se leier, Pieter Groenewald, dit is goed dat die polisie uiteindelik tot sy sinne gekom het ten opsigte van die belangrike rol wat buurt- en plaaswagte speel. Hy sê aanvalle op plase en kleinhoewes het tydens vlak 3 van die nasionale Covid-19-inperking skerp toegeneem met sowat nege aanvalle, wat volgens sy inligting verlede week plaasgevind het.
OFM-nuus
