Agriculture
Landbou-podcast: Voedselsekerheid kry aandag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:06 Tue, 09 Jun 2020
Die Afrika-Ontwikkelingsbank het projekte en progamme bekendgestel om hulp aan Afrika-lande te verleen in terme van voedings- en voedselsekerheidsaspekte te midde van die Covid-19-pandemie.
Die Feed Africa Response to Covid-19 (FAREC), wat deel vorm van die bank se reaksieafdeling, CRF, baan die weg vir 'n omvattende ingryping om veerkragtigheid en volhoubaarheid in voedselsisteme te verseker. Dit is ook daarop gemik om boere te help om koronavirus-verwante onderbrekings in die landbouwaardeketting te hanteer. Dr. Jennifer Blanke, die vise-president vir landbou, menslike en maatskaplike ontwikkeling van dié bank, sê die ondersteuning aan die landboubedryf bevat spesifieke maatreëls. Die ondersteuning van voedselaflewering vir die kwesbaarstes, stabilisering van kospryse, optimalisering van voedselverwerking en ondersteuningsdienste vir uitbreiding, en voorsiening van belangrike landbou-insette deur slim subsidies is van die mikpunte.
Die Suid-Afrikaanse ekonomie is onder geweldige druk en groot krake was al voor die Covid-19-inperkingstydperk duidelik sigbaar. Daarmee saam begin al hoe meer mense honger ly. Dit is waarom die landboubesigheid, NWK, besluit het om die Landbousakekamer, Agbiz, en Graan SA, se Agri Waardeketting-verligtingsprojek te ondersteun. Theo Rabe, hoof uitvoerende beampte van NWK, sê die regering se inkomstebronne word wesenlik ingeperk weens hulpverleningspakkete en dié hulpverlening is ook nie volhoubaar nie. Hy sê dit is ook NWK se sosiale verantwoordelikheid om uit te reik na gemeenskappe in nood. Rabe sê dié projek behels graanskenkings deur produsente wat dan na mieliemeel verwerk en na gemeenskappe versprei word. Rabe sê die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie in Noordwes is verantwoordelik vir die verspreiding van die mieliemeel aan gemeenskappe in gebiede waar NWK werksaam is. Geldelike skenkings kan ook gedoen word. Besoek NWK se webtuiste vir meer inligting.
EN
Intussen reik nog 'n landboubesigheid in die sentrale binneland, Suidwes Landbou, uit na mense wat kosnood ervaar weens die Covid-19-pandemie. Deon Badenhorst, bestuurder van korporatiewe bemarking en kommunikasie by Suidwes Landbou, sê daarom is 'n witmielieskenkingsprojek bekend gestel. Daar word deur dié projek hande gevat met produsente en gemeenskappe om 'n bydrae te lewer in die vorm van graanskenkings by Suidwes Landbou se graansilos. Hy sê daar is instansies in gemeenskappe wat weet waar die nood druk en dié sosiale en maatskaplike netwerke sal gebruik word om die mieliemeel te versprei. Suidwes Landbou gee ook sy versekering dat die projek verantwoordelik hanteer word en die meel sal aan gemeenskappe versprei word. Besoek Suidwes Landbou se webtuiste vir meer inligting.
OFM-nuus
