On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Boere moet wag op voldoende reën

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:52 Wed, 10 Jun 2020

Landbounuus-podcast: Boere moet wag op voldoende reën | News Article

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling moedig boere in droogtegeteisterde winterreënvalgebiede in die westelike gedeelte van die land aan om, sover moontlik, te wag op voldoende reën voordat hulle plant.


Daarmee saam moet hulle ook, indien moontlik, poog om aanplantings binne die optimum plantvenster te doen. Dit is volgens  Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, wat meen hoewel bo-normale reënval in winterreënvalgebiede verwag word, grondvog en damvlakke steeds krities laag is. Hy sê dit moet ook in berekening gebring word dat die verwagte bogemiddelde reënval nie in alle gebiede sal voorkom nie. Daarom word boere aangeraai om konserwatief te wees tydens hul aanplantings ten opsigte van plantdigtheid, kultivars en die oppervlakte wat aangeplant word. Boere moet ook, indien moontlik, droogteverdraagsame kultivars oorweeg. Ngcobo sê besproeiingsboere moet plantareas verminder in ooreenstemming met waterbeperkings in hul gebiede.  Daarmee saam voorspel die Suid-Afrikaanse Weerdiens kouefronte en gepaardgaande gelokaliseerde vloede weens frontale stelsels wat dié winter kan voorkom.

'n Kouefront, wat reeds sy kloue stewig in die Wes-Kaap en Oos-Kaap ingeslaan het en die sentrale binneland na verwagting binnekort gaan tref, is normaal vir dié tyd van die jaar. Só sê die landbou-ekonoom, dr. Kobus Laubscher, wat meen dié koue toestande hou beslis 'n voordeel in vir winterreënvalgebiede, wat juis nou reën dringend nodig het. Dit sluit gebiede in die Wes-Kaap en die westelike gedeeltes van die Noord-Kaap in. Volgens Laubscher sal kleinveeboere ook 'n plan moet maak teen die erge koue, wat tog 'n impak op hul diere kan hê. Laubscher sê in somergewasproduksie-gebiede van die land verloop die stroopproses goed. Dit kom nadat mielielande té nat was om met die stroopproses te begin. Dié proses is egter nou goed op dreef veral in die sentrale binneland, met sonneblom- en sojaboon-oeste wat grootliks reeds gestroop is.  Hy sê in geheel is dit nou noodsaaklik dat die stroop van somergraangewasse spoedig afgehandel word, sodat boere se kontantvloei kan herstel, maar in geheel gaan dit goed in die landboubedryf met die prys van vleis wat weer sy kop begin optel.

EN

Die immergewilde Bloemskou, wat aanvanklik uitgestel is weens die Covid-19-pandemie en inperkingsmaatreëls, is nou finaal gekanselleer. Elmarie Prinsloo, hoof uitvoerende beampte van dié skou, sê gegewe die volgehoue onsekerheid rondom dié pandemie en die onwaarskynlikheid dat groot samekomste van meer as 'n honderd mense vanjaar sal kan plaasvind, is dié finale besluit geneem. Sy sê bestaande inligting dui ook daarop dat Suid-Afrika se Covid-19-syfers in September vanjaar die hoogste vlak kan bereik, en daarom sal die komende maande kritiek wees vir die land in terme van die veiligheid en gesondheid van mense.  Prinsloo sê egter daar word reeds beplan aan die Bloemskou, wat na verwagting volgende jaar vanaf 23 April tot 1 Mei sal plaasvind.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.