Agriculture
Landbounuus-podcast: 'Brandseisoen is hier'─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:42 Thu, 11 Jun 2020
Verskeie veldbrande wat Woensdag oor die Vrystaat heen aangemeld is, is 'n vroeë aanduiding dat die brandseisoen hier is.
Dit is volgens die algemene bestuurder van die sambreelliggaam vir brandverenigings in die Vrystaat, Johann Breytenbach, nadat verskeie kleiner veldbrande in Mangaung, naby Thaba Nchu en in die Matjabeng-munisipale distrik voorgekom het. Breytenbach sê dit was egter nie ernstige brande wat grootskaalse skade veroorsaak het nie, ondanks sterk wind weens die kouefront, wat sy kloue stewig op die sentrale binneland het. Hy sê volgens inligting van die Suid-Afrikaanse Weerdiens was Woensdag die ergste ten opsigte van veldbrande. Die res van die tydperk wat die kouefront voortduur, is daar brandgevaar in gebiede, maar dit is nie ekstreem nie. Hy sê grondeienaars word wetlik verplig om brande op hul eiendomme te bestuur. Die maak van brandbane is ook belangrik.
Die koue, nat en winderige toestande weens 'n kouefront uit die westelike deel van die land, hou uitdagings in vir skaapboere, veral in die droogtegeteisterde Noord-Kaap. Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap moedig boere aan om hul kudde nou teen die koue weerstoestande te beskerm. Hy sê veral in droogtegebiede in dié provinsie kan skape nie hul eie liggaamshitte opbou nie. Dié diere se energievlakke is laag en weiding is skraps. Hy sê ooie met lammers is maer en dit het ook 'n invloed op die ooie se toestand, omdat hulle hoë energievlakke benodig sodat dit omgeskakel kan word in hitte om hulle teen die koue te beskerm. Winderige toestande vererger die situasie. Jansen moedig boere aan om sover moontlik in die komende dae met die kouefronttoestande hul skaapkuddes in krale of in kleiner kampe te plaas. Die diere moet teen die wind beskut wees. Jansen meen die voortslepende droogtetoestande in gebiede in die Noord-Kaap het ook 'n impak op die veiligheid van gemeenskappe. Wanneer die droogte aanhoudend knyp, word boere genoodsaak om hul boerderybedrywighede te staak, omdat dit nie winsgewend bedryf kan word nie. Dié boere kry werk elders, en kan nie sy hele gesin hervestig nie. Dit gebeur dan dat vroue en kinders op plase agterbly.
EN
Daarmee saam moedig OFM luisteraars aan om betrokke te raak by die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbougemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri SA asook Agri Noord-Kaap, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad om toegang te verkry.
OFM-nuus
