Agriculture
Landbounuus-podcast: Aanlynverhandeling brei uit na Namibië─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:51 Fri, 12 Jun 2020
Die gevestigde aanlynverhandelingsplatform, Beeswinkel, brei nou uit na Namibië.
Petrus van Heerden, direkteur van Beeswinkel, wat spesialiseer in die aanbied van aanlynveilings vir vee, sê hulle het drie jaar gelede voorspel dat die toekoms van veeverhandeling aanlyn gaan wees. Daarom het Beeswinkel twee jaar gelede sy konsep aan die Suid-Afrikaanse mark beskikbaar gestel en kyk hulle sedertdien nie terug nie. Van Heerden sê die aanlynplatform is daarop gemik om koste vir boere en voerkrale te bespaar, met verbeterde marktoegang, deursigtigheid, naspeurbaarheid, asook biosekuriteit. Hy sê danksy tegnologie is dit nou moontlik in Suid-Afrika om aanlyn handel te dryf en bemarkingskoste met tot 70% te sny. Van Heerden sê boere in Namibië het Beeswinkel genader om ook aanlynveilings in dié land te vestig.
Die organisasie vir familieboere, Saai, het onlangs die Gaan jag-veldtog van stapel gestuur. Dr. Theo de Jager, voorsitter van Saai se direksie, sê dit kom nadat die Covid-19-regulasies verskeie bedrywe negatief geraak het en die land se ekonomie, wat reeds broos was, verder verswak het. Hy sê wildboere, asook tabak- en wynboere, staar kontantvloeiprobleme in die gesig, maar die situasie in die wild- en jagbedryf wek groot kommer. Buitelandse jagters, wat met trofeejag by verre die grootste omset op wildplase stimuleer, gaan nie meer na Suid-Afrika reis vir dié doeleindes nie. De Jager sê duisende buitelandse jagters het gekanselleer, wat 'n verdoemende impak op werkgeleenthede, veilings, slaghuise, gastehuise, taksidermie en wapenwinkels het. Sowat R20 miljard is hierdeur vir die plattelandse ekonomie verlore. Hy sê daarom moedig Saai Suid-Afrikaners aan om die jagseisoen te benut en wild te gaan jag. Volgens hom sal plaaslike biltongjag nooit die rol van buitelandse trofeejag kan vervul nie, maar dit kan deurslaggewend wees om wildboere op hul plase te hou. Reispermitte vir dié doeleindes is op Saai se webtuiste beskikbaar.
EN
Sowat 38 miljoen van die Suid-Afrikaanse bevolking bly in stedelike gebiede en slegs 20 miljoen in landelike gebiede. Dit is volgens die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad, of WNNR, wat voorspel die bevolking in stedelike gebiede kan teen 2050 na tussen 58 miljoen en 62 miljoen mense toeneem. Bevolkingsgetalle in landelike gebiede sal afneem. Prof. Philippe Burger, pro-visekanselier vir armoede, ongelykheid en ekonomiese ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), sê volhoubare landbou- en agriverwerkingsbedrywe gaan daarom noodsaaklik wees om voedselsekerheid in die land te verseker. Hy het onlangs aan die Varsproduktebemarkingsvereniging, PMA, se vierde Suider-Afrika-gesprek deelgeneem. Burger meen 'n opwaartse skuif in die beleggingskurwe, wat die afgelope paar jaar 'n afwaartse tendens getoon het, is nodig.
OFM-nuus
