Agriculture
Landbounuus-podcast: Groot opgewondenheid oor winterreën in NK─── CHRISTAL-LIZE MULLER 16:34 Thu, 18 Jun 2020
Daar is groot opgewondenheid oor die feit dat die droogtegeteisterde Noord-Kaap se winterreënvalgebied reën ontvang.
Nicol Jansen, president van Agri Noord-Kaap, sê dit is goeie nuus dat kouefronte, wat deur die binneland beweeg, reën na dié droogtegebiede se winterreënvalstreek bring. Hy sê dié gedeeltes van die Noord-Kaap vorm deel van sowat 10% van dié provinsie se droogtegebied. Volgens hom dui vandeesweek se kouefront, wat op enkele plekke met nat bibberweer en sneeu gepaardgegaan het, op meer normale reënpatrone.
Intussen word hulp steeds aan boere in die droogtegeteisterde Noord- en Oos-Kaap verleen. Die nie-winsgewende maatskappy, Boere Droogtehulp SA, se stigter, Chris van Beljon, sê hulp in die vorm van veevoer asook kos en ander noodsaaklikhede vir menslike gebruik is deurlopend sedert die aanvang van die nasionale Covid-19-inperkingstydperk aan boere in dié provinsies versprei. Hy sê dié maatskappy sou voor die aanvang van vlak 5 van die inperkingstydperk 'n groot hoeveelheid veevoer by Kenhardt naby Upington in die Noord-Kaap aflewer. Dit is egter gekanselleer weens die grendeltyd. Hy sê veevoer is ook in ander Noord-Kaapse gebiede, soos Upington, Williston en Calvinia afgelewer. Besoek Boere Droogtehulp SA se Facebookblad vir meer inligting en om skenkings te doen.
EN
Daarmee saam het die Drakensberger-beestelersgenootskap ook daad by die woord gevoeg en veevoerskenkings aan boere in die Kalahari versprei. Henk Delport, adjunkpresident van dié genootskap, sê dit het alles begin by 'n Drakensberger-teler in die Bothaville-distrik in die Vrystaat wat gras aan medeboere in droogtegebiede wou skenk. Hy sê daarna het die genootskap besluit om geld beskikbaar te stel wat gebruik kan word vir die baalproses. Hy sê talle gemeenskappe het toe daarvan te hore gekom en hul hulp aangebied. Dit sluit die Duitse-gemeenskap in KwaZulu-Natal in. Sedert Desember verlede jaar is nagenoeg R280 000 geskenk deur dié gemeenskap en boere wat deel is van dié genootskap. Gemeenskappe wat wil bydra tot dié inisiatief kan die Drakensberger-genootskap se webtuiste besoek.
OFM-nuus