Agriculture
Landbounuus-podcast: GWK Veilings, Wildswinkel stel nuwe toep in werking─── 15:24 Fri, 19 Jun 2020
GWK Veilings en Wildswinkel se nuwe GWK Veewinkel-toep is in werking gestel.
Dit kom nadat dié maatskappy 'n samewerkingsooreenkoms bereik het om die veilingsbedryf na nuwe hoogtes te lei. Willie Meyer, hoof van GWK Veilings, sê daar is besluit om dié stap te doen nadat die bedryf verskeie uitdagings ondervind het en ontwrig is weens die uitbreking van bek-en-klouseer in Limpopo en die Covid-19-inperkingsregulasies. Hy sê dit was aanvanklik belangrik om die regte vennoot hiervoor aan boord te kry. Daarmee saam sê die oud-Springbok rugbyspeler, Victor Matfield, wat die hoof uitvoerende beampte van Wildswinkel is, dié goed gevestigde veilingshuis bied al die afgelope vyf jaar wildsveilings aanlyn aan. Matfield sê Wildswinkel wou nog altyd die veebedryf en aanlynveilings vir dié bedryf aanbied.
EN
Daarmee saam word die Drakensberger-telersgenootskap se nasionale veiling deur GWK Veilings en Wildswinkel se nuwe aanlynplatform, die GWK Veewinkel-toep, aangebied. Jean van der Merwe, 'n raadslid van dié genootskap wat verantwoordelik is vir die nasionale veiling, sê dit is lekker om nuwe uitdagings aan te pak. Hy sê 'n Drakensberger-speenkalwerveiling vind Maandag aanlyn plaas. Altesaam 288 bulle en 22 verse word aangebied. Inligting oor die diere is op die GWK Veewinkel-toep beskikbaar en daar is sewe verkopers. Hy sê dié aanlyn stilveiling sluit Maandag om 12:00. Daarna vind dié genootskap se nasionale veiling eerskomende Dinsdag plaas en duur tot Donderdag.
OFM-nuus
