Agriculture
Landbounuus-podcast: Vermeende plaasaanvaller in hof verwag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 15:56 Mon, 22 Jun 2020
'n Man wat in hegtenis geneem is in verband met 'n voorval op 'n plaas in Tweespruit naby Ladybrand sal na verwagting binnekort in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van huisroof verskyn.
Dit kom nadat 'n groep mans, gewapen met messe en 'n panga, na bewering vier mense in 'n huis op die plaas Yaxhanam in die Tweespruit-gebied gedreig het. Polisiewoordvoerder, Thandi Mbambo, sê die voorval het Sondag omstreeks 07:00 plaasgevind. 'n Besoeker aan die plaas het gesien hoe 'n groep mans in die rigting van die plaashuis van John Parr en sy vrou Pam beweeg. Mbambo sê die verdagtes het twee tieners, 'n seun en 'n meisie, sowel as hul ouma, Pam, in die huis gedreig en met messe en beveel om op die vloer te lê. 'n Skietery het toe uitgebreek waarna twee van die aanvallers noodlottig gewond is. Nog 'n verdagte is beseer en is tans onder polisiebewaking in 'n hospitaal. Mbambo sê nog 'n verdagte is later met behulp van boere in die gebied, deur die polisie aangekeer. 'n Klag van moord word ook ondersoek. Die slagoffers het nie ernstige beserings opgedoen nie.
Intussen sê Bernard Maree, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Tweespruit-streekslandbouvereniging, boere het vinnig gereageer nadat 'n boer en sy vrou en twee tienerkinders Sondag glo deur vyf mans met messe gedreig en beroof is. Hy sê dié gebied se veiligheidsplan is in werking gestel kort nadat John Parr en sy vrou Pam en hul kleinkinders in hul plaashuis gedreig is. Hy sê boere het dié gebied tot laat Sondagaand gefynkam op soek na een van die vyf mans. Dit kom nadat twee van die verdagtes noodlottig gewond is en 'n derde verdagte gewond is. Maree sê boere het 'n vierde verdagte later in 'n boom gekry. Hy is deur die polisie in hegtenis geneem. Maree sê boere is kwaad oor misdaad op plase en meer spesifiek oor boere en hul naasbestaandes wat aangeval word. Hy meen die politieke situasie in die land noop boere nou om meer paraat te wees en hulself te beskerm teen aanvallers.
EN
Die debat oor die Vrystaatse provinsiale begroting, wat na verwagting vandeesweek sou plaasvind, asook die debat oor die provinsiale begroting vir landbou, is vir eers op ys geplaas. Dit kom nadat die minister van finansies, Tito Mboweni, aangekondig het 'n nood nasionale begroting word Woensdag gelewer. Dit is om die tesourie se plan bekend te maak in 'n poging om Suid-Afrika se skuld weens die Covid-19-pandemie te bestuur. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse Wetgewer, sê ten opsigte van die provinsiale begroting vir landbou moet meer geld beskikbaar gestel word vir hulp aan die kommersiële landboubedryf.
OFM-nuus
