Agriculture
Landbounuus-podcast: Water al belangriker vir finansiering─── 11:40 Thu, 25 Jun 2020
Die beskikbaarheid en doeltreffende benutting van water is nie net vir boere baie belangrik nie, maar ook vir banke in hul finansieringsbesluite.
Dit, volgens Bennie van Rooy, uitvoerende hoof van Grobank. Landbouweekblad berig Van Rooy het tydens 'n web-seminaar oor water gesê saam met die invloed van klimaatsverandering sal dit 'n belangrike kwessie in banke se besluite oor finansiering bly. Van Rooy het bygevoeg banke basseer tradisioneel hul finansieringsbesluite op die sekuriteit wat 'n boer, landbouprojek, kooperasie of landbou-onderneming kan bied, soos die waarde van grond of ander plaaseiendom, asook die vermoë van die betrokke bedrywighede om met voldoende en volhoubare kontantvloei die lening terug te betaal. Die landbou het, gegewe die aantal opkomende kleinskaalse en bestaansboere, reuse-potensiaal om die aantal kommersiële boere uit te brei. Boonop kan die sektor 'n groot rol speel om by te dra tot Suid-Afrika se voedselsekerheid, werkskepping en maatskaplike opheffing. Van Rooy het gesê terwyl eienaarskap van grond en verblyfsekerheid belangrike kwessies sal bly, moet finansiers alternatiewe maniere vind om landbouprojekte sonder sekerheid hieroor te finansier. Die enigste manier is om te kyk hoe verseker kan word dat die betrokke projek voldoende kontantvloei sal hê.
EN
Die mark verbeter steeds vir vee met 'n toename in die prys van die meeste klasse van diere wat op veilings verkoop is. Dit is volgens 'n bekende in die veebedryf, Chris Derksen, wat soos oudergewoonte die veilingspryse vir lewende hawe aan OFM-nuus verskaf. Derksen versprei dié inligting sodat produsente en kopers dieselfde inligting tot hul beskikking het om sodoende ingeligte besluite te kan neem met die aankoop en verkoop van lewende hawe op veilings. Die Noord-Vrystaat word as 'n indeksgebied gebruik. Derksen sê Speenkalwers onder 200kg het teen R33,01 per kg verkoop, speenkalwers tussen 200kg en 250kg teen R32,87 en speenkalwers oor 250kg het teen R30,50 per kg verkoop. Derksen sê boklammers het vir R36,30 per kg en bokooie vir R28,00 per kg verkoop.
OFM-nuus
