Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA vra regering om dieseltekort te ondersoek─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:49 Fri, 26 Jun 2020
Agri SA doen 'n ernstige beroep op die regering om dringend 'n ondersoek van stapel te stuur na die voortslepende tekort aan die voorsiening van diesel aan verskeie industrieë.
Christo van der Rheede, die adjunk-uitvoerende direkteur van dié organisasie, sê volgens die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging (Sapia), is daar genoeg dieselvoorraad by die Durbanse hawe beskikbaar. Van der Rheede sê vandalisme en diefstal van diesel uit die dieselpyplyn vanaf Durban na Johannesburg is 'n groot oorsaak van dié dieseltekort. Van der Rheede sê diesel moet nou met vragmotors vanaf die land se hawens, onder meer Mosselbaai, vervoer word teen 'n hoë koste. Intussen word boere benadeel. Hy meen die polisie asook die weermag moet nou intree en die pyplyn beveilig.
Saai, die organisasie vir familieboerderye, en nege ander applikante, waarvan British American Tobacco South Africa (BATSA) die leiding neem, sal nou eers in Augustus, en nie eerskomende Dinsdag nie, in die Wes-Kaapse Hooggeregshof verskyn. Hulle pak die stryd aan teen die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma, president Cyril Ramaphosa, en die nasionale bevelraad oor Covid-19, om Artikel 45 van die vlak drie Covid-19-inperkingsregulasies ongrondwetlik te laat verklaar. Tabakhandel word hiervolgens verbied. Saai se Francois Rossouw sê dié verhoor sal nou eers op 5 en 6 Augustus vanjaar voortgaan. Volgens hom voer Dlamini-Zuma aan die handel van tabak sal groter druk op die land se gesondheidstelsel plaas. Saai verteenwoordig boere en plaaswerkers in dié hofgeding. Rossouw sê dié boere het nou 'n krisis op hande, want hulle het reeds groot bedrae geld aan insetkoste en infrastruktuur bestee. Salarisse aan plaaswerkers is ook betaal. Hy sê dié koste kan slegs teruggewin word as boere in staat is om voordeel te trek uit die opbrengs van hul tabak-oeste.
EN
Suid-Afrika se verwagte kommersiële mielie-oes is steeds goed al is die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se vyfde produksieskatting vir mielies afwaarts aangepas teenoor die vorige skatting. 'n Landbou-ekonoom van Graan SA (GSA), Luan van der Walt, meen dit kan steeds die tweede grootste mielie-oes sover in die land se geskiedenis wees.
OFM-nuus
