Agriculture
Landbounuus-podcast: BBP toon indrukwekkende oplewing─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:34 Wed, 01 Jul 2020
Die jongste opdatering van Statistieke Suid-Afrika se Bruto Binnelandse Produk (BBP) toon 'n indrukwekkende oplewing in die vooruitsigte vir die landboubedryf.
Volgens Paul Makube,senior landbou-ekonoom by FNB Agri-Besigheid, het dié bedryf, asook bosbou en visserye, in die eerste kwartaal van die jaar 'n toename van 27,8% en 'n 0,5 persentasiepunt tot Suid-Afrika se BBP gelewer. Makube sê 'n hoër bydrae deur graangewasse en tuinbouprodukte is verwag en goeie weerstoestande het daartoe bygedra dat produsente sowat 7% meer hektaar onder kommersiële graan- en oliesaadgewasse aangeplant het. Die aangeplante gebied vir mielies is op 2,61 miljoen hektaar, wat op 'n jaargrondslag 13% hoër is. Hy sê die sterk uitvoervraag het die mielie-omset in die eerste kwartaal verhoog. Dit was 512 800 ton, wat 86% hoër is op 'n jaargrondslag. Volgens Makube het goeie produksietoestande, 'n swakker Rand, en die herstel in uitvoer die vrugtebedryf se prestasie 'n hupstoot gegee. Die wisselkoers van die Rand teenoor die Amerikaanse Dollar het in die laaste kwartaal van verlede jaar met 4% en op 'n jaargrondslag met 10% gedaal. Dit was voordelig vir uitvoerders van produkte.
Die Nasionale Raad van DBV's het nog 'n rondte gewen in die Hooggeregshof in Grahamstad teen die uitvoer van lewende skape per skip na die Midde-Ooste. Dit kom nadat die maatskappy Al Mawashi en sy eweknie, Livestock Transport and Trading Company (KLTT), 'n dringende hooggeregshofaansoek teen dié nasionale raad ingedien het. Die hof het Dinsdag beslis dié maatskappy mag nie die skape uit Suid-Afrika uitvoer voor die verhoor op 16 Julie plaasvind nie. Dié maatskappye het tydens die jongste aansoek aangevoer dié vertraging in die verskeping laat hul koste ophoop, omdat dié diere by 'n voerkraal in die Oos-Kaap aangehou word. Dit is ook duur om die Al Messilah-vragskip langdurig in dieOos-Londense hawe te hou. Hulle het verder aangevoer dat slegs 56 000, en nie meer 70 000 lewende skape nie, uitgevoer sal word, wat voordelig vir die welstand van dié diere op die skip is- veral ten opsigte van veedigtheidskwessies. Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van dié nasionale raad, sê hulle is verheug oor die beslissing.
EN
Die Rooivleisbedryfsforum ondersteun die handel van lewende hawe en die vervoer van diere per skip, mits dit voldoen aan Suid-Afrikaanse wetgewing en die Wêreld-organisasie vir Dieregesondheid (OIE) se regulasies. Dit is veral in die afwesigheid van vasgestelde Suid-Afrikaanse riglyne wat daarop betrekking het. So sê die nasionale Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) se uitvoerende hoof, Gerhard Schutte, wat meen daar was nie genoegsame bewyse dat die maatskappye, Al Mawashi, en die Livestock Transport Trading Company (KLTT) se skip aan dié minimum vereistes voldoen nie. Die RPO vorm deel van die Rooivleisbedryfsforum. Schutte sê dit het duidelik aan die lig gekom toe dié Koeweitse maatskappye se dringende hoogerregshofaansoek verlede week in die Grahamstadse Hooggeregshof aangehoor is. Intussen sê 'n kenner in die vleisbedryf, Chris Derksen, dit is goed dat die prys van skape op veilings toenemend styg. Hy skryf dié styging toe aan 'n ekstra mark wat geskep is deurdat plaaslike skape na die Midde-Ooste uitgevoer word.
OFM-nuus
