Agriculture
Landbounuus-podcast: Vooruitsigte vir toestande in SA steeds goed─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:50 Mon, 06 Jul 2020
Die vooruitsigte vir landboutoestande in Suid-Afrika bly sterk ondanks die voortdurende uitdagings wat die Covid-19-pandemie inhou.
Wandile Sihlobo, 'n landbou-ekonoom van die Landbousakekamer, Agbiz, sê onlangse landbou-ekonomiese data deur Statistieke SA het die siening dat vanjaar 'n hersteljaar vir die landboubedryf sal wees, ná dalende tendense wat vir twee jaar agtereenvolgens plaasgevind het, bevestig. Sihlobo sê die bruto binnelandse produk (BBP) en landbou-indiensneming is aanduiders in dié verband. Daarmee saam verwag Suid-Afrika ook dié seisoen di naasgrootste graanoes sover in die land se geskiedenis met die jongste vooruitskattings vir mielies, sonneblomsaad en sojabone wat op toenames van onderskeidelik 38%, 13% en 8% dui.
Terwyl Suid-Afrika se somergraanoes vir dié seisoen baie goed daarna uitsien, is daar hoop dat die produksie van wintergrane ook goed sal verloop en dat weerstoestande sal saamspeel. Luan van der Walt, 'n landbou-ekonoom van Graan SA (GSA) sê koringaanplantings in die Wes-Kaap,wat Suid-Afrika se grootste koringproduserende provinsie is, is reeds afgehandel. Hy sê daar is produsente wat aanvanklik binne die optimimum plantvenster genoop was om met aanplantings in droë grond te begin, maar goeie wydverspreide reën het later in 'n groot gedeelte van dié produksie gebied hoop gebring. Hy sê koringaanplantings in die noordelike droëlandgebiede van Suid-Afrika het ook begin en is goed op dreef. Produsente het nog tyd om koring tot einde van vandeesmaand, aan teplant.
EN
Trekkerverkope in Junie het 'n aansienlike toename getoon teenoor eenhede wat verlede jaar dieselfde tydperk verkoop is. Jim Rankin, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-vereniging (Saama), sê altesaam 414 trekkereenhede is verlede maand verkoop, wat 11% meer is as die 373 eenhede wat in dieselfde maand verlede jaar verkoop is. Hy sê trekkerverkope sover vanjaar is egter 6% laer as die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Daarmee saam is 17 stropereenhede verlede maand verkoop. Dit is drie eenhede minder, wat verkoop is in dieselfde tydperk verlede jaar. Rankin sê stroperverkope sover vanjaar is egter 5% meer as verkope die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Hy sê daar is twee aspekte wat dié mark in dié stadium aandryf. Rankin sê teen die agtergrond van die swakker waarde van die Rand is daar voorraad beskikbaar wat voor prysverhogings, wanneer nuwe voorraad beskikbaar is, teen die swakker randwaarde gaan verkoop. Dit is volgens hom nog 'n aspek wat die mark dryf en sal bydra dat verkope op die korter termyn goed sal vertoon, terwyl voorraad teen laer pryse gekoop word.
OFM-nuus
