On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Veldtog teen plaasmoorde, -aanvalle verskerp

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:43 Thu, 09 Jul 2020

Landbounuus-podcast: Veldtog teen plaasmoorde, -aanvalle verskerp | News Article

Suid-Afrikaanse organisasies en politieke partye neem nou afsonderlik daadwerklike stappe teen moorde en aanvalle op plase en kleinhoewes.


Dit kom nadat daar die afgelope maand ’n skerp toename in plaasmoorde oor die land heen was. AfriForum, en die landbounetwerk vir familieboere, Saai, het ’n verskerpte veldtog teen dié misdrywe van stapel gestuur. ’n Ope brief is ook aan pres. Cyril Ramaphosa gerig waarin sy ingryping geëis word. Tien praktiese stappe wat die regering moet uitvoer, word ook daarin uiteengesit. Dié veldtog is begin met die bekendstelling van 'n dokumentêre insetsel oor die moord op Attie, Wilna en hul tweejarige dogter, Wilmien Potgieter, naby Lindley in die Vrystaat in 2010. AfriForum se Ernst Roets sê spesiale behandeling ten opsigte van dié misdrywe word nie gevra nie, maar gelyke behandeling is nodig. Daarmee saam sê AfriForum se Ian Cameron die wet laat genoeg ruimte vir wetsgehoorsame burgers om hulself te beskerm en hy moedig landbougemeenskappe aan om by bestaande veiligheidstrukture aan te sluit. Volgens dr. Theo De Jager, Saai se direksievoorsitter, is geen oplossing moontlik voordat die regering nie eers erken dat plaasaanvalle en -moorde ’n probleem in die land is nie. Luidens AfriForum en Saai se syfers was daar verlede maand 40 plaasaanvalle en vyf moorde gepleeg. Vandeesmaand was daar reeds 15 aanvalle op plase en vier moorde gewees.

Daarmee saam word die DA se hof-moniteringseenheid, wat vandeesweek bekendgestel is, wyd in landbougeledere verwelkom. Dié eenheid het ten doel om slagoffers van aanvalle op plase en kleinhoewes te ondersteun en te verseker dat misdadigers se vervolging suksesvol plaasvind. Dié stelsel is aanvanklik deur die Departement van Gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap van stapel gestuur. Die DA se Dianne Kohler-Barnard, sê dit is nou nodig want vir elke honderd gewelddadige misdrywe wat in 2001 by die polisie aangemeld is, is slegs ses beskuldigdes ná twee jaar in slegs ses verhore skuldig bevind. Daarmee saam gaan die DA voorts inskrywings op sosiale media, wat dié moorde en aanvalle na bewering aanwakker, na die Menseregtekommissie (MRK) verwys, sodat haatspraak ondersoek kan word.

EN

Intussen het die Vryheidsfront Plus vandeesweek in ‘n mosie sonder kennisgewing in die Nasionale Raad van Provinsies (NRVP) daarop gewys dat plaasaanvalle en -moorde, asook grondbesettings, in Suid-Afrika toeneem. VF Plus-lid in die NRVP, Fanie du Toit, sê dié party het ook gevra kennis moet geneem word van president Cyril Ramaphosa se versuim tot dusver om standpunt oor dié kwessie in te neem. Du Toit sê daar is 'n dringende noodsaaklikheid om dié misdrywe tot prioriteitsmisdaad te verklaar, omdat landbougemeenskappe nie langer slagoffers kan wees nie. Volgens hom sal vuur, indien nodig, met vuur binne die raamwerk van die wet bestry word.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.