Agriculture
Landbounuus-podcast: Vrae oor herroeping van droogte as ramp─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:27 Mon, 20 Jul 2020
Verskeie landbou-organisasies het hulle sterk uitgespreek teenor die kennisgewing van die regering se nasionale rampbestuursentrum in die Staatskoerant om die klassifikasie van droogte as 'n nasionale ramp te herroep.
Andrea Campher, Agri SA se ramprisikobestuurder, sê hierdie tipe ondeurdagte en reaksionêre aankondigings deur dié sentrum dui daarop dat die regering die afgelope paar jaar geen daadwerklike poging aangewend het om die impak van die voortslepende droogte in gebiede op die kommersiële landbou te verlig nie. Agri SA wil daarom die navorsing en verbandhoudende data voor oë kry wat tot die rampbestuursentrum se besluit gelei het en as die besluit uit die heup afgeskiet word, moet koppe begin rol. Die ramphulp van R139 miljoen wat deur die regering aangebied is weens die nasionale droogteverklarings 'n fraksie van die werklike koste wat dié bedryf in die laaste vyf tot agt jaar moes aangaan.
Intussen sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, dié organisasie sal graag wil weet op grond van watse inligting het die nasionale rampbestuursentrum sy besluit geskoei om die klassifikasie van droogte as 'n nasionale ramp te herroep. Hy sê dié vraag is van belang want daar is groot dele van die land wat nog gebuk gaan onder droogtetoestande. Van Zyl meen die staat is onverantwoordelik en die hele kwessie van droogte-ondersteuning deur die staat is bloot "lippediens".
EN
Die moontlike vorming van 'n vennootskap tussen die landbou-maatskappye, VKB en GWK, is nog in 'n vroeë stadium. Dit kom nadat dié twee landboubesighede aangedui het dat hul onderskeie direksies die groenlig gegee het om die moontlikheid van die vorming van 'n vennootskap te ondersoek. Die besturende direkteur van die VKB-groep, Koos Janse van Rensburg, sê VKB met sy hoofkantoor in Reitz in die Vrystaat en GWK met sy hoofkantoor in die Noord-Kaapse dorpie, Douglas, begin nou met samesprekings. Hy meen konsolidasie in die landboubedryf is 'n werklikheid en primêre sowel as sekondêre landbou is onder druk. Oorhoofse kostestrukture moet verklein word, sodat produsente op hul plase kan voortgaan. VKB het 55 handelstakke en is gevestig in die noordoostelike gedeelte van die Vrystaat asook die noordelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en die suidelike deel van Mpumalanga. Daar is in die hele Limpopo ook 'n goeie verspreiding van VKB-takke.
OFM-nuus
