Agriculture
Landbounuus-podcast: Minister werp lig op begrotingsbesnoeiings─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:06 Wed, 22 Jul 2020
Die besnoeiing in die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling se begroting het meegebring dat moeilike veranderinge hanteer moes word om die negatiewe uitwerking op die lewering van dienste in die bedryf te voorkom.
Só het minister Thoko Didiza Dinsdag gesê toe sy in 'n virtuele sessie die Parlement ingelig het oor haar begrotingsbesnoeiings. Die minister van Finansies, Tito Mboweni, het vroeër vanjaar R16,8 miljard aan die departement beskikbaar gestel. Dit is tydens die aanvullende begrotingsrede in Junie vanjaar tot R14,4 miljard heraangepas. Didiza het gesê sy is dankbaar dat dié besnoeiings nie die noodsaaklike toekennings op die mediumtermyn vir biosekuriteit beïnvloed het nie. Suid-Afrikaanse uitvoer en die afhandeling van grondeise is ook nie geraak nie. Volgens Didiza is die grootste gedeelte van die besnoeiings aan haar begroting R1,89 miljard, wat die programme vir voedselsekuriteit, grondherverdeling en restitusie binne die departement lewer. Didiza het ook gesê met betrekking tot die verkryging van grond sal geen nuwe projekte in hierdie boekjaar oorweeg word nie.
Huldeblyke stroom in vir 'n reus in die landboubedryf en regskringe, Kammie Strydom, wat Maandag in die ouderdom van 72 in die Life Anncron-hospitaal in Klerksdorp in Noordwes weens Covid-19 oorlede is. Strydom het diep spore getrap in die Vrystaat waar hy gematrikuleer het aan Grey-kollege Sekondêr en regte aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) gestudeer het. Hy het in die jare tagtig, nadat hy tot die balie toegelaat is en in Bloemfontein as advokaat gepraktiseer het, die stadslewe verlaat om in Vryburg in Noordwes te gaan boer. Strydom se seun Zarlus sê sy pa het in 2010 van sy plase verkoop en op 'n kleinhoewe gebly. Hy het weer as advokaat gepraktiseer. Zarlus sê sy pa het longprobleme gehad en het verlede jaar ook varkgriep opgedoen. Volgens Zarlus het sy pa deur die jare 'n groot verskeidenheid gewasse soos mielies, en grondbone op droëland geproduseer. Hy het saadmielies onder besproeiing, asook paprika en aartappels aangeplant. Sy pa het ook 'n Santa Gertruda-stoet en 'n kommersiële skaapkudde gehad. Hy was nou betrokke by georganiseerde landbou. Zarlus het groot lof vir sy pa en beskryf hom as 'n man met 'n sagte hart, wat presteer het in alles wat hy aangepak het. Strydom se troosdiens is eerskomende Vrydag om 11:00 in die NG Wes-gemeente in Vryburg. Die Covid-19-regulasies ten opsigte van bywoning sal gevolg word, maar dié diens sal heel moontlik op die internet gevolg kan word.
OFM-nuus
