Agriculture
Landbounuus-podcast: ‘Grondbodem uiters belangrik vir voortgesette produksie’─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:34 Mon, 27 Jul 2020
Die regering is arrogant ten opsigte van die beskerming van die grondbodem en die langtermyn voordele wat die bewaring daarvan inhou.
Dit kom nadat die regering die klassifikasie van droogte as 'n nasionale ramp opgehef het. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die grondbodem is 'n nasionale bate en dit is uiters belangrik vir voortgesette produksie. Regulasies rondom 'n rampverklaring geld al baie jare. Hy sê die doel was wanneer 'n ramp verklaar word, verplig dit grondeienaars om hul vee te verminder om sodoende die grondbodem te beskerm. 'n Grondeienaar word dan volgens voorskrifte vergoed met droogtehulp weens die vermindering van veegetalle, terwyl boere se produksievermoë drasties verklein het. Jansen sê dié opheffing van droogte as 'n nasionale ramp raak ook sekere voordele wat produsente ontvang het. Hy meen die regering trek nou 'n streep deur die definisie van 'n ramp, omdat klimaatsverandering nou deel word van die kriteria terwyl die regering aanvoer die rede vir dié opheffing is omdat die bedryf 'n toleransie teen klimaatsverandering moet ontwikkel.
Suid-Afrika kan danksy hoër reënval nog 'n goeie landbou-seisoen in 2020/21 hê. Dit is volgens Wandile Sihlobo, 'n landbou-ekonoom van die Landboubesigheidskamer, Agbiz, wat meen indien dié vooruitsigte realiseer, sal dit voordelig wees vir alle subsektore van die bedryf soos veldgewasse, vee en tuinbou. Sihlobo skoei sy mening op die Suid-Afrikaanse Weerdiens se onlangse seisoenale klimaatvoorspelling. Daarvolgens is daar 'n waarskynlikheid van 'n La Niña-fase in die komende somermaande, omdat dit in die afgelope paar maande drasties verbeter het. Hy meen vir die eerste keer in etlike jare dui voorspellings daarop dat die somergewasseisoen in sy tradisionele periode, wat vroeg in Oktober is, kan begin. Sihlobo sê weerstoestande kan egter verander en dié vooruitsigte sal noukeurig gemonitor word.
EN
Die Opkomende Rooivleisprodusentevereniging, Nerpo, het sy waardering uitgespreek vir die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, se ondersteuning aan kleinskaalse boere. Dit kom nadat die nasionale departement se begroting vir 2020/21 van R14,4 miljard aangekondig is. Daar is egter 'n besnoeiing van R2,4 miljard weens die impak van die Covid-19-pandemie. Aggrey Mahanjana, die groepbesturende direkteur van Nerpo, sê kleinboere is swaar getref deur dié pandemie en 'n langtermyn-ingryping is nodig wat die dalende produktiwiteit van dié bedryf kan red. Mahanjana sê dit is ook bemoedigend dat Didiza die Landbounavorsingsraad (LNR) en die Nasionale Landboubemarkingsraad ondersteun met die toekenning van onder meer sowat R1,2 miljard en R47 miljoen in die begroting.
OFM-nuus
