Agriculture
Landbounuus-podcast: Gesin vermoedelik op kleinhoewe oorval, ontvoer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:38 Tue, 28 Jul 2020
Die nasionale polisie moet nog bevestig of 'n liggaam wat gevind is in die Taung en Buxton-gebied dié van een van die vermiste gesinslede van Hartswater in die Noord-Kaap is.
Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, kon nog nie deur OFM-nuus bereik word vir kommentaar nie. Dit kom nadat Danie Brand, sy vrou Breggie, en hul dogter Elzabie Sondag vermoedelik op hul kleinhoewe aangeval en ontvoer is. Marius Muller, AfriForum se nasionale operasionele koördineerder, het vroeg vanoggend aan OFM-nuus bevestig 'n liggaam is gevind. Volgens hom kan slegs die polisie bevestig of dit wel die liggaam van aan een van die Brand-gesinslede is. Muller sê volgens sy inligting is vier verdagtes Maandagaand by Pudimoe in Noordwes deur die polisie in een van die vermiste voertuie, wat na bewering gebuit is tydens die aanval, aangekeer. Benewens dié beweerde gesteelde motor is nog 'n motor, wat aan een van die Brand-gesinslede behoort het, ook verlate gevind.
Intussen het Johan Stoltz, bevelvoerder van die Vaalharts-gemeenskapsveiligsheid-eenheid, wat nou betrokke is by die soektog en die ondersoek, aan OFM-nuus bevestig dat die verdagtes wat aangekeer is aan die polisie uitgewys het waar die liggaam van die Brand-egpaar se dogter, Elzabie, is. Hy sê die soektog na die Brand-egpaar duur voort.
EN
'n Oorskot van graanvoorraad in die wêreld is nie goed vir die plaaslike bedryf nie. Dr. Dirk Strydom van Graan SA (GSA) meen as die groot Suid-Afrikaanse graanoes wat dié seisoen verwag word, met 2017 se oes vergelyk word, is dit nie op dieselfde vlak nie. Dit word aan toenemende verbruiksyfers toegeskryf.
OFM-nuus
