Agriculture
Landbounuus-podcast: Moordverdagtes in hof verwag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:14 Wed, 29 Jul 2020
Altesaam vyf verdagtes, waaronder 'n vrou, sal na verwagting Donderdag in verband met die moord op Danie Brand, sy vrou Breggie, en hul dogter Elzabie, in die landdroshof in Hartswater verskyn.
Hulle staan tereg op drie aanklagte van moord, en klagte van ontvoering en motordiefstal. Nasionale polisiewoordvoerder, Vishnu Naidoo, sê 'n 72-uur-aksie plan is in werking gestel en verskeie spesialiseenhede asook ondersteunende dienste is geaktiveer, nadat die polisie Maandag deur 'n bekommerde familielid van die Brand-gesinslede in kennis gestel is dat hulle vermis word. Dié gesinslede is Sondag vermoedelik in hul huis op 'n kleinhoewe in die Magogong-gebied in die Noord-Kaap aangeval. Hy sê 'n beweerde gesteelde motor, wat aan die slagoffers behoort, is daarna verlate in Majaneng by Taung in Noordwes gekry. Nog 'n beweerde gesteelde motor van die slagoffers is daarna by Pudimoe opgemerk en voorgekeer. 'n 42-jarige vrou en twee mans, wat onderskeidelik 18 en 19 jaar oud is, is aangekeer. Volgens Naidoo is 'n vierde verdagte, 'n 20-jarige, Dinsdagoggend láát in hegtenis geneem, waarna 'n 36-jarige later dieselfde middag aangekeer is. Die liggame van die Brand-gesinslede is in die Takaneng-gebied in Taung gevind.
Intussen trek die gemeenskap van Hartswater en omliggende gebiede Donderdag by die plaaslike landdroshof saam wanneer vyf verdagtes teregstaan vir die moord op 'n bejaarde afgetrede egpaar, Danie en Breggie Brand, en hul dogter, Elzabie. Hul ontvoering en moord het skokgolwe deur die land gestuur. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê dié aanval word ten sterkste veroordeel en die regering sal nou sy verantwoordelikheid ten opsigte van veiligheid en die handhawing van wet en orde, met ferm optrede moet uitoefen. Hy sê dié organisasie is betrokke by die protesaksie buite die landdroshof in terme van die mobilisering van die gemeenskap. Hulle gaan sigbaar wees en fokus daarop dat die verdagtes nie op borgtog vrygelaat moet word nie.
EN
Daarmee saam sê die voorsitter van Agri Noord-Kaap se komitee vir landelike veiligheid, Joe Scholtz, daar is groot dankbaarheid vir die Hartswater en omliggende gemeenskappe sowel as die polisie se vinnige optrede in die soektog en ondersoek van die Brand-gesinslede se voorval. Hy sê betrokkenes het vinnig opgetree en mekaar ondersteun om die nodige inligting rondom dié voorval te verkry. Scholtz meen ook die Vaalharts landelike-veiligheidseenheid se ondersteuning is prysenswaardig. Volgens hom voeg gemeenskapstrukture van dié aard waarde toe tot die bekamping van misdaad, veral in die Vaalharts-gebied wat digbewoon word weens die besproeiingsuitbreidings daar. Hy loof ook die polisie se vinnige reaksie met behulp van gemeenskapstrukture om die verdagtes aan te keer.
OFM-nuus
