Agriculture
Landbounuus-podcast: Hartswater-moordsake uitgestel─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:00 Thu, 30 Jul 2020
Die vyf verdagtes wat aangekeer is in verband met die moord op die Brand-gesinslede in hul huis op 'n kleinhoewe by Manogong in die Hartswater-gebied in die Noord-Kaap, sal in Augustus weer in die hof verskyn.
Tshepho Visagie, Donald Seoleseng, Tshepaone Melato, Kgomotso Mpulwana en Realeboga Manyedi het vlugtig in die landdroshof in Hartswater verskyn. Hulle staan tereg op 'n aanklag van moord en ontvoering op Danie Brand en sy vrou Breggie, en hul dogter Elzabie. Die veiligheidsverteenwoordiger van die Vaalharts-veiligheidskomitee sê die protesoptog waarin gemeenskappe geëis het dat die verdagtes nie op borgtog vrygelaat word nie, het goed afgeloop. Daar was sowat 300 mense wat in 'n konvooi na die hof gery het. Trekkers, vragmotors en bakkies was deel van die konvooi. Hy sê die boodskap wat uitgestuur is, is dat alle lewens van belang is.
Intussen het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die vinnige reaksie deur die polisie verwelkom met die inhegtenisneming van vyf verdagtes, waaronder 'n vrou, in verband met die aanval, ontvoering en moord van 'n afgetrede egpaar, Danie en Breggie Brand, en hul dogter Elzabie in hul huis op 'n kleinhoewe in die Magogong-gebied buite Hartswater in die Noord-Kaap. Volgens Didiza sal dié inhegtenisneming vertroue in die Suid-Afrikaanse regstelsel bring en 'n sterk boodskap aan misdadigers stuur dat daar geen plek vir kriminele aktiwiteite in die land is nie. Sy het ook namens die landboubedryf haar innige meegevoel aan die familie, vriende en kollegas van die slagoffers uitgespreek. Didiza het verder 'n beroep gedoen op alle belanghebbendes in die bedryf om waaksaam te wees teen aanvalle op plase en kleinhoewes, sienende dit voedselsekerheid en produksie negatief raak.
EN...
Die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wilbewaringsvereniging is ontevrede met die minister van omgewingsake, bosbou en visserye, (DEFF), Barbara Creecy, se wysigings aan die Covid-19-inperkingsmaatreëls ten opsigte van die biodiversiteitsektor. Dié vereniging voer aan dat dit verreikende negatiewe gevolge inhou vir landelike gemeenskappe wat afhanklik is van die ekonomie van dié bedryf. Verbruiksjag asook wildvermindering word in dié gewysigde regulasies weggelaat sonder enige voorafgesprekke met betrokkenes in die bedryf. Die voorsiening van verblyf vir enige tipe jag word ook verbied. Dié gewysigde regulasies maak ook nou slegs voorsiening vir jagters om in dieselfde provinsies waar hulle bly te jag. Daarmee saam moet die aandklokreël tussen 21:00 saansen 04:00 soggens nagekom word. Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van SA Jagters, sê daar word 'n dringende beroep op die regering gedoen om sy benadering tot die vermindering van Covid-19-risiko's te heroorweeg.
OFM-nuus
