Agriculture
Landbounuus-podcast: Batsa in hof weens tabakverbod─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:47 Tue, 04 Aug 2020
Die tabakmaatskappy, Batsa, en die regering sê mekaar Woensdag in die Kaapstadse Hooggeregshof die stryd aan oor die regering se omstrede sigaretverbod.
Batsa en ander betrokkenes kon vir vier maande weens die regering se Covid-19-regulasies, geen produkte verkoop nie. Daarmee saam het die Fair Trade Independent Tobacco Association, FITA, al twee keer bloedneus in die hof gekry. Fita het Vrydag sy aansoek om verlof tot appèl by die Bloemfonteinse Appèlhof ingedien. Batsa, en nege applikante, wat ook tabakboere verteenwoordig, voer in hofstukke aan dié verbod is irrasioneel en het nie die gewenste doelwitte bereik nie. Dr. NkosazanaDlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se vermoë om regulasies te regverdig, word aangevoer. Die kern van Batsa se argumente fokus op individuele regte en persoonlike vryhede. Batsa meen slegs 'n klein fraksie van rokers het opgehou, terwyl sluikhandel toegeneem het. Die verbod is ook in stryd met die grondwetlike regte van elkeen wat 'n keuse het om te rook. Die regering se hofstukke dui daarop dat 38,5% van rokers met Covid-19 sterf. Rokers loop ook 'n groter risiko om aan 'n ventilator in die hospitaal gekoppel te word.
Intussen sê Francois van der Merwe, 'n tabakboer en'n direksielid van Limpopo Tobacco Processors in Rustenburg in Noordwes, die regering se verbod op die verkoop van tabak as deel van die Covid-19-regulasies dien geen doel nie. Hy sê dit gaan glad nie goed in die bedryf nie. Hulle moes vir meer as 16 weke agter slot en grendel wees en die kanse om oorlewewing is skraal. Volgens Van der Merwe wil die bedryf nie met die regering in hofgedinge betrokke raak nie, maar hulle het geen keuse nie. Van der Merwe sê daarmee saam verloor die regering maandeliks R1,5 miljard se belasting, terwyl die onwettige tabakmark geen belasting betaal nie en ook nie Suid-Afrikaanse tabakboere se produkte koop nie.
EN
'n Nuwe tussentydse direksie vir die Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) is aangewys totdat 'n nuwe raad aangestel word. Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het dié direksie aangestel ná die ampstermyn van die bestaande direksie verlede maand verstryk het. Die tussentydse raad bestaan uit sewe lede, soos vereis word deur die Wet op OBP van 1999. Woordvoerder van die landboudepartement, Reggie Ngcobo, sê dié tussentydse raad bestaan uit vyf lede wat in die vorige raad gedien het. Daar is twee nuwe bykomende lede. Volgens hom is die nuwe komitee se dringende mandaat om die bestaande ouditproses te finaliseer en die afsluitingsverslag op te stel. Die direkteur-generaal, Mdu Shabane, het opdrag gegee dat wanbestuur in die OBP ondersoek word. Ngcobo sê die aanstelling van 'n nuwe raad is ook in 'n gevorderde stadium.
OFM-nuus
