On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Samewerking tussen SAPS, Agri SA versterk

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:52 Wed, 12 Aug 2020

Landbounuus-podcast: Samewerking tussen SAPS, Agri SA versterk | News Article

Agri SA en die polisie span nou saam om landelike veiligheid oor die land heen te versterk.


Dit kom nadat 'n suksesvolle vergadering tussen verteenwoordigers van dié landbouorganisasie en die polisie se topstruktuur, onder leiding van Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, onlangs gehou is. Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir landelike beveiliging, sê die goeie bestaande samewerkingsooreenkoms tussen dié betrokkenes is op dié vergadering versterk. Dit in 'n poging om uitdagings rondom landelike veiligheidskwessies aan te spreek. Twee taakspanne is op dié vergadering saamgestel, waarvan een taakspan fokus op die uitdagings rondom die onwettige jag van wild met honde. Esterhuyse sê Agri SA is 'n belangrike vennoot van die polisie en daarom word dié organisasie goed op die taakspanne verteeenwoordig. Hy sê albei organisasies is bekommerd oor die voorkoms van aanvalle op plase en kleinhoewes en daarom sal dié reservistestelsel so spoedig moontlik in plek gestel moet word. Daarmee saam sal wit- en bloulig-patrollies deur die polisie in samewerking met boere en Agri SA gehou word.

Saai, ’n organisasie wat die regte en belange van familieboere – insluitend wildboere – beskerm, het ’n dringende aansoek by die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die verbod op reis tussen provinsies vir bestaansjagdoeleindes op te hef. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê die aansoek is namens meer as 360 eienaars van wildsplase en -operateurs ingedien en het ten doel om voorskrifte van die gewysigde riglyne wat betrekking het op die biodiversiteitsektor tersyde te stel. Die Departement van Omgewingsake, Bosbou en Visserye het tot die uiterste verbasing van alle betrokkenes die gewysigde biodiversiteitsriglyne gepubliseer, wat behels het dat bestaansjag nie meer binne die regulasies van vlak 3 toegelaat sal word nie. Barbara Creecy, die Minister van Omgewingsake, Bosbou en Visserye, het haar besluit op 31 Julie 2020 verduidelik deur te sê jagters mag by hul jagbestemmings oornag indien dit in die provinsie is waar hulle bly. Rossouw sê data toon dat omtrent 88% van jagters buite hul eie provinsies gaan jag en daarom is die verbod op reis tussen provinsies ’n reuseslag vir ’n bedryf wat ongeveer R12 miljard per jaar tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bydra.

EN

Intussen het betrokkenes in die wynbedryf hulself sterk uitgestreek oor dié bedryf wat nou op 'n ramp afstuur weens die verbod op die verkoop van drank weens die Covid-19-regulasies. Ook toerisme, wat 'n groot element is in die bedryf, word negatief geraak. Rico Basson, besturende direkteur van Vinpro, sê dringende ingryping is nodig, anders sal een van die oudste landboubedrywe in die land nie oorleef nie. Basson sê baie wynondernemings het reeds hul deure gesluit weens dié beperking, en die res van die bedryf sal eenvoudig nie 'n voortgesette alkoholverbod oorleef nie, terwyl duisende werknemers geen inkomste sal kan verdien nie.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.