Agriculture
Landbounuus-podcast: Lang herstelpad lê voor vir wynbedryf─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:38 Mon, 17 Aug 2020
Daar lê nog 'n lang pad van herstel voor vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf.
Dit is volgens Rico Basson, bestuurshoof van die wynbedryforganisasie Vinpro, ná pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die verbod op die plaaslike handel en verspreiding van drank tydens vlak twee van die Covid-19-inperkingsregulasies opgehef is. Diehandel en verspreiding van drank kan vanaf Dinsdag voortgaan. Daar is egter sekere vereistes waaraan voldoen moet word. Basson sê daar is groot dankbaarheid dat wynhandel en aanlynverkope hervat kan word, maar dié bedryf is steeds oorweldig deur die skade wat daaraan berokken is deur die tydelike verbod op die uitvoer en verlenging van die verbod op plaaslike verkope. Hy sê weens die aanvanklike handelsverbod op drank, wat nege weke geduur het, asook die verbod op uitvoer van wyn, wat oor vyf weke gestrek het, en die mees onlangse tweede handelsverbod, sal sowat 80 wynkelders en 350 wyndruifprodusente hul deure in die komende 18 maande noodgedwonge moet sluit. Daarmee saam is daar 'n potensiële verlies van meer as 21 000 werksgeleenthede oor dié bedryf se waardeketting. Basson sê Vinpro, ander bedryfsvennote asook die regering, is in die proses om 'n dringende rampherstelplan saam te stel in 'n poging om dié bedryf te stabiliseer.
Daarmee saam sê die Fair Trade Independent Tobacco Association (Fita) hy sal voortgaan met sy appèlaansoek teen 'n hofuitspraak, wat die verbod op die verkope van tabakprodukte bekragtig het. Dit ondanks die regering se aankondiging dat dié verbod ná vyf maande opgehef is. Dié verbod is opgehef wanneer die land Dinsdag na vlak twee van die inperkingsregulasies oorgaan. Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, sê daar sal beslis voortgegaan word met dié appèlaansoek, nadat die hoogste hof van appèl Fita se aansoek om verlof tot appèl Vrydag toegestaan het. Dit is teen die Pretoriase hooggeregshof se uitspraak op 26 Junie vanjaar, waar daar toé aangevoer is dat die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini Zuma, redelik opgetree het om lewens te red toe sy die tabakverbod in terme van die Rampbestuurswet in die Staatskoerant gepubliseeer het. Die hoogste hof het ook 'n kostebevel teen Fita tersyde gestel.
EN
Intussen sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van die landbou-organisasie vir familieboere, Saai, die verslapping van die regering se inperkingsregulasies is té laat. Hy sê dit is vir talle boere, landboubedrywe en die waardekettings té min en té laat. Hy sê dié aankondiging wat onder meer die verbod op die handel van drank en tabak tydens vlak twee van die nasionale staat van inperking ophef, kom nie as 'n verrassing nie, gegewe die druk van verskeie hofaansoeke in dié bedrywe, asook die jagbedryf, wat deur Saai teen die regering aanhangig gemaak is. Hy sê werksverliese in dié bedrywe is 'n gegewe. Hy sê die wildbedryf, wat reeds deur die afwesigheid van buitelandse trofeejagters vermink is, is 'n nekslag toegedien.
OFM-nuus
