Agriculture
Landbounuus-podcast: Melkboer sterk aan ná plaasaanval─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:12 Mon, 24 Aug 2020
Dit gaan onder omstandighede goed met die 30-jarige melkboer van die Potchefstroom-distrik, Hennie Niemand, wat deur 'n verdagte wat op parool vrygelaat is, op sy plaas gewond is.
Dit het gebeur terwyl Niemand se tweejarige dogtertjie en sy tienjarige nefie in die bakkie was. Die 21-jarige aanvaller, Koane Potlaki, is noodlottig in die voorval gewond. Hennie se pa, Hannes, sê een van hul werkers was Vrydagmiddag by 'n kraal op die plaas waar hulle ultradrukbeweiding vir speenkalwers doen. Dit is sowat 3 km van die plaashuis af. Hy sê volgens dié werker is hy deur 'n gewapende Potlaki, wat ook bekend staan as Shortie, gedreig en gedwing om Hennie te bel sodat hy daarheen kan kom. Hannes sê toe Hennie met die twee kinders in die bakkie daar aankom, het hy die verdagte gesien en besef hulle is nou in 'n gevaarsituasie. Hannes sê met sy aankoms op die toneel was die kinders veilig en Hennie se dogtertjie het in daardie stadium nie besef wat gebeur het nie. Hennie is na die Mediclinic Potchefstroom gebring, waar sy milt Vrydagaand verwyder is. Hannes sê hy het ook bloeding in sy buik gehad. Hannes sê hy kon Maandagoggend telefonies met sy seun praat. Sy stem was steeds hees, maar Hennie is vasbeslote om spoedig na die plaas terug te keer.
Intussen doen die polisie in Potchefstroom 'n geregtelike doodsondersoek en ondersoek ook 'n klag van die besit van 'n onwettige vuurwapen in verband met dié voorval. Polisiewoordvoerder, Amanda Funani, sê die 21-jarige aanvaller, Koane Potlaki, wat op die toneel dood is, was op borgtog vrygelaat. Potlaki sou vandeesweek na verwagting in die plaaslike landdroshof verskyn het in verband met 'n voorval van huisroof verlede jaar op 'n ander plaas in die gebied.
EN
Daarmee saam sê Rudi du Toit, veiligheidsverteenwoordiger van Agri Potchefstroom, talle boere was Vrydag vinnig op die toneel nadat 'n melkboer, Hennie Niemand, na bewering deur 'n verdagte gewond is en toe teruggeskiet het uit selfverdediging. Volgens du Toit het boere hulle na die toneel gehaas, terwyl die polisie ook vinnig gereageer het. Hy sê veiligheidstrukture in dié distrik is aktief, maar boere is nou keelvol vir geweldsmisdaad en diefstal op plase. Dit is daarom belangrik dat gemeenskappe by bestaande veiligheidstrukture aansluit sodat dié netwerk nog meer versterk kan word.
OFM-nuus
