On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Hoë standaarde van dierewelsyn noodsaaklik vir skeepsvervoer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:05 Thu, 27 Aug 2020

Landbounuus-podcast:  Hoë standaarde van dierewelsyn noodsaaklik vir skeepsvervoer | News Article
Photo: Gallo

Dit is krities noodsaaklik dat handel in lewende hawe in Suid-Afrika voortgaan, maar dit sal verantwoordelik moet geskied, terwyl hoë standaarde van dierewelsyn gehandhaaf moet word.


Dit is volgens Koos van der Ryst, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) nadat die hooggeregshof in Grahamstad beslis het dat die Kuweitse uitvoermaatskappy, Al Mawashi en Livestock Transport and Trading Company (KLTT), lewendige skape vanaf die Castledale-voerkraal in die Oos-Kaap op die Al Messilah kan laai en na die Midde-Ooste uitvoer. Hy sê dit moet egter streng volgens die riglyne van die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) uitgevoer word. Die RPO is ook opgewonde oor die moontlikhede van handel in lewende hawe en tot soveel as 300 000 kleinvee kan jaarliks aan die Midde-Ooste verhandel word. Hy sê dit kan baie vir plaaslike kommersiële en opkomende kleinvee produsente beteken. 'n Taakspan sal egter op die been gebring moet word om die Suid-Afrikaanse departement van landbou te ondersteun, sodat 'n protokol gefinaliseer kan word volgens die OIE-riglyne. Dit sal veral noodsaaklik wees indien die tweede gedeelte van die hofaansoek van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings, NDBV, aangehoor word. Hierin word gevra vir 'n algehele verbod op die vervoer van lewende hawe na die noordelike halfrond. Daar is nog nie 'n hofdatum daarvoor bekend nie.

Daarmee saam sê Doug Stern, president van Agri Oos-Kaap, die uitvoer van lewende hawe vanaf dié provinsie gaan 'n reuse geldelike inspuiting wees, veral vir die informele bedryf. Die helfte van alle diere in die Oos-Kaap word deur opkomende boere besit, maar hierdie boere dra slegs ongeveer 8% van hul lewendige vee tot formele markte by. Daarom is georganiseerde landbou in die proses om met hierdie boere saam te werk in 'n poging om hul diere se genetiese potensiaal te verhoog. Stern sê indien dít suksesvol is, kan daar in die komende vyf tot tien jaar moontlik 'n ooraanbod van rooivleis in die Oos-Kaap ontstaan. Daarom moet daar nou op meer eksterne marktegefokus word. 

EN

Intussen sê Marcelle Meredith, uitvoerende direkteur van die Nasionale Raad van Dierebeskermingsverenigings, (NDBV), hulle is  teleurgesteld in die hooggeregshof in Grahamstad se hofbevel dat sowat 56 000 lewendige skape na die Midde-Ooste op die Al Messilah-skip uitgevoer kan word. Sy sê die stryd is egter nie verby nie. Die NDBV wag nou vir die hof om redes vir sy beslissing voor of op 15 September te verskaf. Meredith sê die probleem met dié hofbevel is dat die diere nie teen hittestres en ander wreedhede op hierdie skepe beskerm word nie, daarom beoog die NDBV om appèl teen dié beslissing aan te teken.  

OFM-nuus

 

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.