Agriculture
Landbounuus-podcast: Ses verdagtes vas ná Potch-skietvoorval─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:10 Fri, 28 Aug 2020
Altesaam ses verdagtes tussen die ouderdomme van 30 en 40 jaar is agter tralies, danksy die polisie se flinke ondersoek in verband met 'n skietvoorval waarin die Potchefstroomse sakeman André Marais tien keer op sy kleinhoewe gewond is.
Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, sê die inhegtenisneming kom ná 'n geïntegreerde operasie van die Potchefstroomse dwelmtaakspan, 'n trio-taakspan, die Carletonville-speurdiens en veiligheidsmaatskappye. Sy sê vier verdagtes is Donderdagoggend by Carletonville aangekeer. Volgens Myburgh is nog 'n verdagte in Oos-Driefontein vasgetrek, terwyl 'n 34-jarige man op 'n plaas in die Muiskraal-gebied aangekeer is. Dié 34-jarige man het hom aanvanklik voorgedoen as 'n slagoffer van dieselfde groep verdagtes wat by dié Marais-aanval betrokke was. Dieselfde man is op die dag van die aanval deur boere van die distrik langs die pad voorgekeer. Hy het glo aangevoer dat hy ontvoer, beroof en langs die pad afgelaai is. Myburgh sê inligting is egter opgevolg en dieselfde man is in die Muiskraal-gebied op 'n plaas in hegtenis geneem. 'n Motor wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is, is in sy besit gevind. Dié verdagte word aangekla van meineed. Myburg sê Marais, is Dinsdagmiddag omstreeks 18:00 na sy tuinwerker se sinkhuis nadat sy hond baie geblaf het. Al ses verdagtes sal Maandag weer in die hof verskyn op 'n aanklagte van poging tot moord.
EN
Intussen is André Marais, die sakeman van die Muiskraalgebied by Potchefstroom, wat Dinsdagmiddag tien keer in'n aanval op sy kleinhoewe in sy bene geskiet is, oorgeplaas na 'n hospitaal in Sandton. Sy vrou Elsie sê daar is komplikasies met die bloedtoevoer na sy hoofslagaar in sy regerbeen, wat in die skietvoorval getref is. Sy sê André is steeds in baie pyn, maar dit gaan onder omstandighede goed met hom. Sy is steeds baie getraumatiseerd, maar verlig dat ses verdagtes aangekeer is. Elsie sê sy en André het Dinsdagmiddag by die huis aangekom. Hy het hul huis oopgesluit en is weer na buite om ondersoek te gaan instel oor hoekom hul hond geblaf het. Daarna het sy geweerskote gehoor. Sy het pas haar motor in die motorhuis getrek en het platgeval en in die huis ingekruip sodat sy hulp kon ontbied. Daarmee saam het die Vryheidsfront Plus die inhegtenisneming van ses verdagtes in verband met dié voorval verwelkom. Fanie du Toit, VF PLUS-LP in Noordwes, sê die verskillende polisie-eenhede en ander betrokkenes se harde werk word geloof. Hy sê dit is 'n goeie voorbeeld van behoorlike gekoördineerde polisie-optrede, terwyl die rol van gemeenskapslede, wat leidrade aan die polisie verskaf het, ook van onskatbare waarde is. Hy meen dít behoort die grondslag te vorm vir die polisie se landelike veiligheidsplan.
OFM-nuus
