Agriculture
Landbounuus-podcast: Oesskatting lyk steeds goed─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:31 Mon, 31 Aug 2020
Hoewel die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) 'n marginale opwaartse aanpassing in sy vroeëre skatting gemaak het, is die totale graan- en oliesaadproduksie se jongste skatting van 17,85 miljoen ton, steeds goed.
Dit is volgens Paul Makube, 'n senior landbou-ekonoom by FNB Agri Besigheid, wat meen dit is steeds een van die grootste opbrengste vir die land. Dit is 34% hoër teenoor die vlakke in 2019. Hy sê ondanks vroeëre vermindering in produksie in Mpumalanga en verslae wat daarop dui dat mielies in die westelike gebiede afgegradeer is tot 'n swakker gehalte WM2-vlak, is die totale mielie-oes van 15,54 miljoen ton sowat 38% hoër op 'n jaargrondslag. Hy meen die prys van graan, veral mielies, het egter sterk gestaan en dít sal boere aanmoedig tot meer aanplantings in die komende seisoen, veral met die vooruitsigte van 'n gunstige reënvalseisoen.
Boere moet nou reeds voorkomend optree teen veesiektes, veral siektes wat in die lente-, somer- en herfstydperk voorkom en deur insekte oorgedra word. Dr. Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sê die situasie met betrekking tot siektes wat deur insekte asook bosluise oorgedra word, verander vinnig sodra dit begin reën. Die fokus nou is egter op dié siektes waarteen boere hul beeskuddes betyds moet inent. Odendaal raai boere aan om in noue kontak met hul veeartse rondom drie-dae-stywesiekte te wees, want as dit een jaar voorgekom het, is daar 'n groot sirkulasie van dié virussiekte in die komende jaar. Volgens hom is daar egter 'n nuwe geregistreerde entstof beskikbaar, sienende Onderstepoort se entstof uit voorraad is.
EN
'n Boervrou van Mpumalanga het met 'n blink plan vorendag gekom om hulp aan boere te verleen in die droogte-geteisterde Namakwaland, en nou meer spesifiek by Calvinia in die Hantam-distrik. Elria Steinberg se projek, Boks-voer-vir-'n-Boer, behels 'n aanlynwinkel waar veevoerpakkette beskikbaar is. Steinberg, gebore en getoë in die Noord-Kaap, sê sy het die insiatief van stapel gestuur om sodoende op die boer self, wat in nood verkeer, te fokus. Sy meen dié konsep is sover bekend die eerste in droogtehulp-geledere. Steinberg sê daar is 'n Pappa-boks vir vyf sakke veevoer asook 'n Oupa-boks, wat 'n hele bakkie-vrag vol veevoer teen R4 200 insluit. Die Menere-boks kos R8 400 en is gemik op maatskappye, wat verkies om eenmalig 'n groot hoeveelheid veevoer te koop en aan een van die 11 boere, wat reeds uitgewys is om hulp te ontvang, te skenk. Sy sê weldoeners kan self besluit aan welke van dié boere hulle pakkette wil skenk. Dié geld word dan aan 'n boer verskaf, wat self veevoer by plaaslike landboubesighede kan aankoop.
OFM-nuus
