Agriculture
Landbounuus-podcast: Veeboere moet veral nou diere teen parasiete beskerm─── ELSABÉ RICHARD 10:19 Fri, 25 Sep 2020
Die warm somermaande en reëntyd is op hande en skep die ideale toestande vir besmetting met parasiete.
Daarom moet veeboere nou stappe doen om hul diere te beveilig. Landbouweekblad berig dr. Faffa Malan, bestuurder van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika (Ruvasa), sê in sy verslag oor siektes wat in Augustus by die vereniging aangemeld is, dit is nou die tyd om te beplan, in te ent en biosekerheid toe te pas. Die uitbroei van meeste inwendige parasiete se eiers word bevoordeel deur die reënval laat in die winter in sommige dele van die land, sowel as stygende temperature. Malan sê boere moet oplet na tekens van parasietbesmetting soos, onder meer, bloedarmoede, gewigsverlies en maagwerkings. Hy sê uitwendige parasiete soos bosluise, wat nou weer in getalle toeneem, dra ook talle ernstige veesiektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater, anaplasmose, hartwater en knopvelsiekte oor.
EN
Die landbou-organisasie Vriende van Landbou hou hierdie naweek ‘n virtuele nagmaal op hulle Facebook-blad. Gerhard Kriel van dié landbou-organisasie sê die virtuele diens, wat Sondag om 11:00 begin, word deur die Vriende van Landbou-ondersteuningsnetwerk aangebied. Hy deel dat die tema van die diens ‘Dankbaarheid’ is en voeg by dat daar verskeie getuienisse sal wees van mense in landbou oor dankbaarheid in hulle lewe. Hy sê die tema spruit uit al die goeie dinge wat vanjaar plaasgevind het, ten spyte van die koronavirus-pandemie wat die hele wêreld ‘n slag toegedien het. Kriel voeg by dinge waarvoor die landboubedryf dankbaar is, is veral vanjaar se verwagte goeie oes.
OFM-nuus
