Agriculture
Landbounuus-podcast: SA se top-stoetkuddes vereer─── CHRISTAL-LIZE MULLER 14:54 Tue, 29 Sep 2020
Standard Bank en SA Stamboek se Elite-eerbewysgeleentheid het vanjaar goed afgeloop, al moes dit virtueel aangebied word.
Dr. Japie van der Westhuizen, algemene bestuurder van SA Stamboek, sê dié geleentheid, wat vanjaar tydens die Bloemskou sou plaasvind maar weens die Covid-19-inperkingsmaatreëls gekanselleer is, word gekenmerk deur 'n rits eerbewyse. Hy sê dit het ten doel om erkenning te gee aan die land se top-stoetkuddes. Van der Westhuizen meen dié telers met hul onderskeie kuddes wat genomineer is, is die beste in die land wat van Stamboek se dienste gebruik maak. Die kuddekompetisie was vanjaar weer die hoogtepunt van die Elite-eerbewystoekenningsgeleentheid.
EN
Die getal menslike sterftes weens hondsdolheid, wat vanjaar oor die land heen aangemeld is, is minder teenoor die getal gevalle in vorige jare. Mpho Maja, die nasionale direkteur van dieregesondheid by die departement van landbou, sê altesaam vier mense is reeds vanjaar weens hondsdolheid dood. Sy sê dié afname in sterftes vanjaar kan toegeskryf word aan die Covid-19-inperkingsregulasies. Maja sê die belang van die inenting van troeteldiere en die noodsaaklikheid daarvan om dié diere sover moontlik te isoleer, kan nie genoeg beklemtoon word nie. Dié dodelike virussiekte wat in soogdiere soos jakkalse, meerkatte, hiënas, vlermuise asook die mens voorkom, word in speeksel uitgeskei en tas die senustelsel aan. Die virus word deur die byt van 'n besmette dier na die mens oorgedra. Alle besmette diere is gevaarlik aggressief in die dolstadium van die siekte.
OFM-nuus
