Agriculture
Landbounuus-podcast: Landbou toon minste werksverliese─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:48 Wed, 30 Sep 2020
Die landboubedryf het die kleinste hoeveelheid werksverliese in terme van Statistieke SA (Stats SA) se kwartaallikse arbeidsmag-opname vir die tweede kwartaal getoon.
Dié afname word beskou as 'n direkte gevolg van die strenger Covid-19-inperkingsmaatreëls. Luidens Stats SA het die landboubedryf 'n afname van slegs 7,6% getoon teenoor 10,8% in die formele sektor en 21,9% in die informele sektor. Private huishoudings het 'n afname van 23,6% getoon. TLU SA se president, Henry Geldenhuys, sê die regering moet nou logies te werk gaan en besef die inperkingsmaatreëls het verwoesting gesaai in bedrywe wat verhoed is om in dié tydperk werksaam te wees. Hy sê daarom moet die regering nou die ekonomie ten volle heropen. Luidens Statistieke SA se verslag het werkloosheid in die land met 2,8 miljoen tot 4,3 miljoen afgeneem, terwyl die getal mense wat werksaam is, met 2,2 miljoen tot 14,1 miljoen gedaal het teenoor syfers in die vorige kwartaal van die jaar.
Daarmee saam sê die landbou-ekonoom, Kobus Laubscher, die werklikheid van Statistieke SA se teleurstellende verslag oor die arbeidsmag vir die tweede kwartaal is verseker die naskok van die Covid-19-pandemie. Hy meen die slegte nuus is dat dit in terme van werkskepping nog slegter met die land kan gaan. Volgens hom kan die landboubedryf se afname, hoewel dit die kleinste is van al die bedrywe, onder meer toegeskryf word aan seisoenale werksgeleenthede wat in die eerste gedeelte van dié kwartaal geskep is. Laubscher sê daar is hoop dat dit kan voortduur, maar sekere aspekte moet in ag geneem word. Laubscher glo nog werksgeleenthede in die landboubedryf kan geskep word, en sodoende kan dié bedryf 'n ander bydrae tot die land se ekonomiese heropbouproses lewer.
EN
Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) voorspel sneeu en reën in sommige gedeeltes van die sentrale binneland later vandeesweek. 'n Beroep word ook op boere in dié gebiede gedoen om hul vee sover moontlik beskut te hou. Michael Nethavani, 'n voorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor, sê reën en kouetoestande kan Vrydag en Saterdag in die suidelike en oostelike gedeeltes van die Vrystaat, aangrensend tot Lesotho, voorkom. Sneeu word ook in die Lesotho-bergreeks verwag, asook gedeeltes van die Van Reenenspas weens 'n koue front wat deur die land beweeg. Nethavani sê die kwik gaan teen Vrydag vinnig in dié gebiede daal. Die hoogste moontlikheid vir reën sal in aangrensede gebiede tot Lesotho in die oostelike gedeelte van die Vrystaat by Bethlehem en Vrede voorkom. Reën word ook voorspel vir sekere gebiede in Noordwes. Min reën word voorspel vir die Noord-Kaap, met slegs enkele buie wat in die verre suidelike dele kan voorkom.
OFM-nuus
