Agriculture
Landbounuus-podcast: Aankondiging oor staatsgrond verwag─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:45 Thu, 01 Oct 2020
Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, sal na verwagting later vandag in Pretoria op 'n mediakonferensie staatsgrond beskikbaar stel.
Reggie Ngcobo, woordvoerder van die departement, sê Didiza gaan ook die kriteria en die proses wat gevolg moet word deur lede van die publiek om staatsgrond te bekom, bespreek. Dit kom nadat pres. Cyril Ramaphosa vroeër vanjaar in sy vierde staatsrede in die Parlement aangekondig het dat die regering vanjaar sowat 700 000 hektaar staatsgrond vir landbouproduksie sal vrystel. Daarmee saam het Ramaphosa ook 'n nuwe keuringsbeleid vir potensiële begunstigdes van grondhervorming aangekondig. Dit sluit verpligte opleiding in voordat grond toegeken sal word. Voorkeur in dié verband sal aan jeugdiges, vroue, mense met gestremdhede en diegene wat op gemeenskaplike grond boer, gegee word. Dit in 'n poging om hulle bedrywighede vir opleiding en toekenning van grond uit te brei. Dié mediakonferensie kan regstreeks gevolg word op die Suid-Afrikaanse regering se Facebook-, Twitter- en YouTube-platforms.
EN
Die prys van lewende hawe, wat behaal is op veilings in die Noord-Vrystaat, het vandeesweek 'n afname getoon. Chris Derksen,'n kenner in dié bedryf, sê die mark het ietwat teruggesak, en dit kan nie toegeskryf word aan 'n spesifieke rede nie. Hy sê egter goeie pryse is steeds behaal met speenkalwers, onder 200kg, wat op dié plaaslike veilings in die Noord-Vrystaat teen R41,50 per kg verkoop het. Speenkalwers tussen 200kg en 250kg het teen R38,75 en speenkalwers oor 250kg het teen R36,88 per kg verkoop. Volgens Derksen het stoorskape teen R29,00 per kg verkoop. In die bokmark het lammers 'n goeie prys van R60,88 behaal, terwyl bokooie teen R35,11 per kg verkoop is.
OFM-nuus
