Agriculture
Landbounuus-podcast: Senekal-landbou beplan optog na landdroshof─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:51 Mon, 05 Oct 2020
Senekal-landbou met verskeie landbouverenigings, asook landbouverenigings van naburge gebiede, vergader vanoggend om 'n optog te beplan na die landdroshof in Senekal in die Vrystaat.
Dié optog gaan plaasvind wanneer twee verdagtes Dinsdag in die hof verskyn in verband met die moord op 'n jong plaasbestuurder in die Paul Roux-distrik. Die 21-jarige Brendin Horner is Donderdag wreed gemartel en op die plaas De Rots in die Paul Roux distrik in dié provinsie, vermoor. Sy liggaam, wat met 'n tou aan 'n paal vasgemaak is, is Vrydagoggend vroeg in 'n veld op die plaas waar hy gewerk het gevind. Rian Schutte sekretaris van die Britsberg landbou-vereniging, wat deel is van Senekal-landbou, sê lede van ander landbouverenigings in dié gebied, asook Bethlehem, Steynsrus en Fouriesburg is deel van die vergadering. Hy sê verdere reëlings oor die optog na die landdroshof in Senekal sal eers later vandag na dié vergadering bekend gemaak word. Schutte sê 'n vreedsame optog word beplan, waartydens die nodige erns in verband met sinnelose aanvalle en moorde op plase en kleinhoewes duidelik aan die dag gelê gaan word.
EN
Intussen sê polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Motantsi Makhele, die polisie kan in dié stadium nie bevestig of nog inhegtenisnemings kan volg in verband met die moord op die jong plaasbestuurder van Paul Roux, Brendin Horner, nie. Makhele sê twee verdagtes, onderskeidelik 32 en 43 jaar oud, is Saterdag deur speurders van die Senekal-tak in Fateng tse Ntho in Paul Roux in hegtenis geneem. Makhele sê Horner het beserings aan die kop en gesig gehad. Die polisie het beslag gelê op 'n mes wat naby die toneel gevind is. Horner se bakkie is later verlate gevind op die plaas Duikfontein in dieselfde distrik. Daar was bloedvlekke in die bakkie gewees. Die twee verdagtes verskyn na verwagting Dinsdag in die landroshof in Senekal op 'n aanklag van moord.
OFM-nuus
