Agriculture
Landbounuus-podcast: VS-gemeenskappe tot kalmte gemaan─── CHRISTAL-LIZE MULLER 13:49 Mon, 05 Oct 2020
Gemeenskappe in die Vrystaat word tot kalmte gemaan, nadat 'n 21-jarige plaasbestuurder in die Paul Roux-distrik wreed vermoor is.
Brendin Horner is Donderdagaand etlike kere met 'n mes gesteek deur aanvallers op die plaas De Rots in dié distrik. Sy liggaam, wat met 'n tou aan 'n paal vasgemaak is, is Vrydagoggend vroeg in 'n veld op die plaas naby 'n hek gevind. 'n Bebloede mes en Horner se pet is ook nie ver van die toneel gevind nie. Horner het vroeër die dag by sy pa Robby gaan kuier en het nooit teruggekeer na sy huis nie. Jakkals le Roux, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se landelike veiligheidskomitee, sê die wreedheid van die aanval is onaanvaarbaar en dit is te verstane dat dit tot woede onder gemeenskappe kan lei. Hy sê kalmte is veral nou nodig in die lig van die hofverskyning Dinsdag in die landdroshof in Senekal van dié twee verdagtes in verband met die moord op Horner. Hy moedig gemeenskappe in die Vrystaat aan om eerder deel te vorm van 'n opleidings- en bewusmakingsplan, wat sedert Augustus in wording is. Dit word in samewerking met die polisie in die provinsie gedoen en behels die opleiding van alle gemeenskappe en nie slegs landbougemeenskappe of lede van dié organisasie nie. Dié plan is daarop gemik om gemeenskappe op te lei en meer weerbaar teen aanvalle in landelike gebiede te maak.
Dit wil voorkom of daar geen politieke wil bestaan by die regering om alle geweldsmisdaad in die land daadwerklik aan te spreek nie. Dit sluit onder meer in die aanslag teen landbougemeenskappe, nadat Brendin Horner, 'n jong plaasbestuurder van die Paul Roux-distrik, vermoor is op 'n plaas waar hy werksaam was. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap sê dié organisasies treur saam met hul eweknieë in die Vrystaat ná die moord op Horner Donderdagaand. Strydom sê die lewensverlies van 'n boer is 'n groot verlies vir die landboubedryf in geheel. Daar is al verskeie kere uit verskeie oorde 'n beroep op die regering gedoen om op te tree teen geweldsmisdaad, sonder enige geluk. Daarom wil dit voorkom of die regering nie oor die politieke wil beskik om daarteen op te tree nie. Strydom het egter die polisie gelukgewens en bedank met die spoedige inhegtenisneming van Horner se vermeende moordenaars.
EN
Daarmee saam het die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, die moord op die jong plaasbestuurder, Brendin Horner, van Paul Roux in die Vrystaat ten sterkste veroordeel. Didiza het 'n beroep op wetstoepassers gedoen om geen steen onaangeroer in hul ondersoek te laat nie. Didiza het gesê sy kan nie die rol van boere en plaaswerkers in die voedselwaardeketting genoeg beklemtoon nie. en dié moord het 'n verwoestende uitwerking op die bedryf. Daarmee saam het die DA in die Vrystaat se Roy Jankielsohn die voorval as tragiese en brutaal bestempel en meen Suid-Afrika kan dit nie bekostig om boere, veral jong boere wat 'n skaarsste is, te verloor nie.
OFM-nuus
