Agriculture
Landbounuus-podcast: Agri SA kies nuwe president─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:27 Fri, 09 Oct 2020
'n Groot taak rus op die skouers van Agri SA se nuutverkose president, Pierre Vercueil, 'n boer van Noordwes.
Vercueil is op dié organisasie se virtuele kongres tot president verkies, nadat hy in dié posisie waargeneem het toe Dan Kriek die voormalige president bedank het. Vercueil sê die verantwoordelikheid wat op dié organisasie rus is nie eenvoudig nie, want verskeie belanggroepe is byeen om sekere doelwitte te bereik. Hy stel dit wel duidelik dat Agri SA hom steeds toespits op die belang van boere in Suid-Afrika.
Vercueil sê verder landelike veiligheid is seker een van die mees belangrikste kwessies in die land en dit is nou van groter belang na aanleiding van die gebeure tydens die hofverskyning van twee aangeklaagdes in Senekal in verband met die moord op die jong plaasbestuurder, Brendin Horner, van Paul Roux. Hy sê die kriminialiteit in die land, wat moorde op plase en kleinhoewes insluit, is op 'n totaal onaanvaarbare vlak in Suid-Afrika en dié gebeure in Senekal is 'n sameloop van omstandighede wat soos 'n pot vol emosies nou oorgekook het.
Agri SA se visepresidente is 'n boer van Hennenman in die Vrystaat, Jaco Minaar, wat die voormalige voorsitter van Graan SA (GSA) is , en Phinias Gumede 'n boer van KwaZulu-Natal. Vercueil sê die verkiesing van Agri SA-direksielede is steeds in die proses en sal na verwagting binnekort afgehandel word.
OFM-nuus
