On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: 'SA kan nie wet in eie hande begin neem'

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:45 Fri, 09 Oct 2020

Landbounuus-podcast: 'SA kan nie wet in eie hande begin neem' | News Article

Boere in Suid-Afrika is blootgestel aan 'n geweldskultuur, terwyl hulle min ondersteuning ontvang.


Pierre Vercueil [verkuil], 'n graan- en veeboer van Noordwes, en nuutverkose president van Agri SA, sê die gevoel onder boere is te verstane. Vercueil, wat op Agri SA se virtuele kongres tot president verkies is, sê landelike veiligheid is 'n polsende kwessie en die aandag is veral nou daarop gevestig na gelang van die gebeure in Senekal. Hordes mense van heinde en verre was Dinsdag byeen toe twee verdagtes in die plaaslike landdroshof verskyn het in verband met die moord op 'n plaasbestuurder van Paul Roux, Brendin Horner. 'n Groep mense het egter hand uitgeruk en die hofgebou bestorm. 'n Polisievangwa is omgekeer en was later in ligte laaie. Skote en skokgranate is afgevuur. Vercueil, wat tussen Vryburg en Mahikeng boer, sê emosies onder gemeenskape, wat boere insluit, rakende die kriminaliteit in die land wat nou op 'n onaanvaarbare vlak is, het oorgekook. Dit het bygedra tot die gebeure in Senekal. Hy sê daar is egter hoop dat die volgende hofverskyning in Paul Roux van die twee Horner-moordverdagtes nie hand sal uitruk nie, want die reg moet toegelaat word om sy gang te gaan. Vercueil sê Suid-Afrika kan nie 'n staat word wat die wet in eie hande neem nie, en die landbougemeenskap moet sy bes probeer om sy kant skoon te hou. Dít is nodig om die bedryf in 'n beter posisie te plaas om te beding oor kwessies van belang. Hy sê daarom moet dié bedryf allermins nie lyk of gebeure by Senekal nie veroordeel word nie.

Intussen sê Tommie Esterhuyse, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid, die bou van 'n goeie verhouding met die polisie is die enigste oplossing ten opsigte van veiligheid in plattelandse gebiede in Suid-Afrika. Hy sê daar word al lank daaraan gewerk, daarom waarsku hy boere om hulle te weerhou van gewelddadige optrede weens frustrasie wat opbou, soos wat die geval in Senekal was. Esterhuyse sê daar word besef die kameel se rug het nou gebreek ten opsigte van die onveilige situasie in die land, maar gewelddadige optrede kan nie goedgekeur word nie. Hy waarsku gemeenskappe veral teen aanhitsende boodskappe wat op sosiale media versprei word.

EN

Daarmee saam word daar hard gewerk op hoë vlakke deur georganiseerde landbou en ander belanghebbendes, asook die polisie, om landelike veiligheid te verbeter. Dit kom nadat Agri SA, TLU SA en AfriForum Maandag 'n suksesvolle vergadering met die polisie se nasionale kommissaris, Khehla John Sitole, gehad het. In 'n gesamentlike verklaring oor die uitkoms van dié vergadering het Sitole die polisie se onwrikbare verbintenis beklemtoon om misdrywe in die platteland proaktief en reaktief te prioritiseer.



OFM-nuus

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.