Agriculture
Landbounuus-podcast: Cele besoek Horner-gesin─── CHRISTAL-LIZE MULLER 11:49 Tue, 13 Oct 2020
Die minister van Polisie, Bheki Cele, en die minister van Staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, besoek die familie van die vermoorde Brendin Horner, 'n plaasbestuurder van die Paul Roux-distrik, vandag.
Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging, wat gebiede soos Fouriesburg, Clarens, Kestell en Paul Roux insluit, sê dié besoek aan Horner se naasbestaandes op die plaas Graspan is 'n private aangeleentheid, waarna Cele na verwagting georganiseerde landboustrukture sal toegespreek in 'n plaaslike landbousaal. Hy sê Cele moet nou antwoorde verskaf nadat georganiseerde landbou in dié gebied tydens die Senekal-hofverskyning van twee vermeende Horner-moordverdagtes, eise in 'n verklaring aan Cele gestel het. Daarin is onder meer aangedring dat 'n nasionale taakspan saamgestel word om veediefstal in Paul Roux en omliggende gebiede te ondersoek. Daar is geëis dat Cele binne sewe dae met antwoorde en planne vorendag kom. Hy sê daar is hoop dat 'n oplossing gevind kan word in dié verband.
Viljoen sê 'n verslag is ook opgestel rakende die probleme wat ondervind word rondom veediefstal in dié distrik. Dit is aan die Valke oorhandig. Dié verslag is op werklike statistieke en gebeure gegrond en daar word aangevoer dat veediefstal op 'n georganiseerde bende-tipe grondslag plaasvind. Viljoen sê veediefstal in dié gebied het hand uitgeruk en boere lei 'n verlies van sowat R1,1 miljoen maandeliks weens veediefstal. Hy sê hulle hou asem op dat vandag se vergadering met Cele vrugte sal afwerp, al is daar nie 'n kitsoplossing nie.
EN
Intussen is 'n klein groep mense vandag byeen in Potchefstroom by die borgaansoek van drie verdagtes in verband met die moord op Sias Willemse, 'n deeltydse boer en 'n bekende in plaaslike sportkringe. Agri Noordwes, TLU SA, AfriForum, die DA en Vryheidsfront Plus, sê in 'n gesamentlike verklaring die Willemse-familie word ondersteun met dié samekoms. Ander families wat treur oor die verlies van 'n vermoorde geliefde word ook ondersteun.
Die verdagtes, Merriam Mahlapo, Petrus Mahlapo en Andries Mahlapo, is twee weke gelede in Ikageng in hegtenis geneem nadat Willemse se lyk op 22 September deur 'n familielid in sy huis in die stad gevind is. Hy het nekskietwonde gehad, en daar was ook dasse om sy nek. Volgens 'n boer, wat die verrigtinge by die Potchefstroomse landdroshof bywoon, is daar 'n groot polisie-teenwoordigheid buite die hof. 'n Beperkte getal mense word in die hof toegelaat, terwyl 'n groep mense vreedsaam buite die hofgebou byeen is. 'n Kerkdiens in die Gereformeerde Kerk in dié stad is vroeër vanoggend vir Willemse gehou.
OFM-nuus
