On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Seisoenale voorspelling van reën lyk goed

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:52 Mon, 19 Oct 2020

Landbounuus-podcast: Seisoenale voorspelling van reën lyk goed | News Article

Die seisoenale voorspelling van reën in somergraan-produksiegebiede in die land sien goed daarna uit.


Johan Malherbe, senior navorser by die Landbou-navorsingsraad (LNR), sê dit is vanweë die La Niña-verskynsel wat in die Stille Oseaan aan die ontwikkel is. Malherbe, wat ook nou saamwerk met die landbouversekeringsmaatskappy, AgriSeker, sê in die onmiddellike toekoms is die vooruitsigte vir reën egter minder gunstig, maar toestande kan teen volgende maand verbeter. Hy sê hoewel die westelike produksiegebiede van die land nog nie goeie reën gehad het nie, is die optimale plantvenster in die oostelike somergraangewas-produksiegebiede vroeër as in die westelike gedeeltes en onlangse goeie reën in die oostelike gedeeltes, soos in Mpumalanga en dele van Gauteng, is nou meer waardevol vir produsente in terme van aanplantings.

Intussen plaas goeie landbouproduksie in 2020, hoër kommoditeitspryse wat deur die swakker plaaslike geldeenheid versnel is, asook 'n groeiende wêreldwye vraag, boere in 'n gunstiger geldelike situasie. Wandile Sihlobo, 'n landbou-ekonoom van die Landbousakekamer, Agbiz, sê egter toenemende plaasskuld in landbou duur voort. Hy meen dié situasie sal nie deur een goeie nasionale oes, soos die onlangse graanoes, verbeter nie. Volgens hom kan dié skuldvlakke toegeskryf word aan voorafgaande jare van swak produksie in die onderskeie provinsies van die land. Hy meen te midde van selfs gunstige La Niña-toestande, raak produksiefinansiering in die bedryf nou 'n toenemende bekommernis vir boere. Suid-Afrika se landbouskuld was in 2019 op 'n rekord-vlak van R187 miljard, met sowat 29% van dié skuld wat deur die Land Bank was. Daarmee saam is 61% van die skuld deur verskeie handelsbanke, met 'n verspreide balans daarvan tussen landbou-besighede, private mense en ander instellings. Shilobo sê dit kom daarop neer dat finansiering moontlik 'n bykomende risiko vir produksie in die 2020/21-seisoen inhou.

EN

Geregtigheid met geskied vir die vermoorde Brendin Horner, wat op 'n plaas in die Paul Roux-distrik in die Oos-Vrystaat gewerk het. Dit is volgens Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), wat meen dit is nou belangrik dat die aandag nie van die regsproses geneem word nie. Hy sê dit is goed dat dié proses begin het en dat Horner se vermeende moordenaars voor stok gekry word. Wilken sê VL hoop egter dat Horner se vermeende moordenaars nie op borgtog vrygelaat word nie. Sekwete Mahlamba en Sekola Matlaletsa, het Vrydag in die landdroshof in Senekal verskyn en is steeds in aanhouding. Daarmee saam sê Wilken die gebeure rondom Senekal toon Suid-Afrika staan by 'n kruispad en geweldsmisdaad in die algemeen, maar meer spesifiek geweld teenoor boere en plaaswerkers, lei nou tot die verdeling van gemeenskappe. Landdros Deon van Rooyen sal na verwagting Dinsdag uitspraak lewer oor Mahlamba en Matlaletsa se borgtogaansoek in die Senekal-landdroshof.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.