Agriculture
Landbounuus-podcast: Jong boer beseer in wegholveldbrand─── CHRISTAL-LIZE MULLER 12:18 Tue, 20 Oct 2020
'n Jong boer van die Hertzogville-distrik in die Vrystaat het 40% brandwonde opgedoen in 'n wegholveldbrand wat Sondag in dié distrik ontstaan het.
Dié brand het na bewering tydens betogings deur plaaslike inwoners van die township oor waterkwessies, uitgebreek. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê Tewie Nel die seun van dr. Gerhard Nel, wat ook 'n kranige boer in die distrik is, is gister na 'n hospitaal in Bloemfontein gehaas. Volgens Olivier is Tewie in die hoësorgeenheid opgeneem. Hy sê dié brand, het op die R708 onstaan en die vlamme het vinnig in die veld versprei, wat gelei het tot veelvuldige brande wat toe in die rigting van Dealesville, Bultfontein en Hoopstad gewoed het. Boere met hul vuurvegters het tot laat gistermiddag gespook om die vlamme te blus. Hy sê verwoesting is gesaai, met 'n boer se huis en pakhuis met werktuie, wat in die slag gebly het. Boere in dié distrik het groot veeverliese gely en duisende hektaar weiding het afgebrand.
EN
Die seisoenale voorspelling vir reën in somergraan-produksiegebiede in die land sien goed daarna uit. Johan Malherbe, senior navorser by die Landbou Navorsingsraad (LNR), sê dit is weens die La Niña-verskynsel wat in die Stille Oseaan ontwikkel. Malherbe wat ook nou saamwerk met die landbouversekeringsmaatskappy, Agri Seker, sê in die onmiddelike toekoms is die vooruitsigte vir reën egter minder gunstig, maar die situasie kan in November verbeter.
OFM-nuus
