On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Hertzogville-wegholbrand verwoes reeds 100 000 ha in VS

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:17 Tue, 20 Oct 2020

Landbounuus-podcast: Hertzogville-wegholbrand verwoes reeds 100 000 ha in VS | News Article
Image: Supplied

Sowat 100 000 hektaar veld is al na raming in die Hertzogville-, Boshof-, en Hoopstad-gebied in die Vrystaat deur wegholbrande verwoes.


Dit kom nadat 'n brand Sondag na bewering in Hertzogville uitgebreek het toe inwoners van 'n plaaslike woonbuurt glo oor waterkwessies betoog het. Met bloedige warm toestande en sterk wind het die vlamme vinnig in die veld versprei. Daar was baie vlambare materiaal na goeie reën vanjaar en daarom het die grasveld vinnig en wyd gebrand. Verskeie brande het toe in die Hertzogville-, Dealesville-, en Boshof-distrikte uitgebreek, maar is in dié stadium onder beheer. Dit het ook in die rigting van Hoopstad en Bultfontein gebrand. Gys Olivier, voorsitter van Agri Hertzogville, sê die omvang van die skade is enorm en daar is boere wat al hul natuurlike veld in die brande verloor het. Olivier sê hulle is nou in die proses om opnames te doen om vas te stel wat die verlies is wat deur boere gely is. Olivier sê 'n brand in die rigting van Kimberley en Warrenton, wat in die rigting van Boshof versprei het, het Dinsdagoggend weer opgevlam. Hy sê boere wat al hul weiveld verloor het en van hul vee kon red, het nou dringend veevoer nodig. Geld word ook benodig sodat veevoerskenings na dié gebied vervoer kan word. Olivier sê Tewie Nel, wat saam met sy pa Dr. Gerhard Nel, 'n kranige boer in die distrik, Maandag brande bestry het, is ernstig beseer en het 40% brandwonde opgedoen.


Intussen het Vrystaat Landbou (VL) R100 000 uit sy rampfonds beskikbaar gestel om hulp aan boere in die Hertzogville-, Boshof- en Hoopstad-distrikte te verleen nadat wegholbrande verwoesting gesaai het. VL se Jack Armour sê duisende hektaar veld in dié distrik is verwoes. Armour sê dié geld wat beskikbaar gestel is deur VL gaan aangewend word om onder meer diesel te bekom om veevoerskenkings te vervoer. Hy vra mense omhul harte en beursies oop te maak vir boere in die distrik. Enigiemand wat skenkings wil doen in die vorm van geld of veevoer, kan VL se kantoor skakel.

EN

Daarmee saam werk verskeie betrokkenes nou saam as deel van 'n poging om die verwoestende veldbrande in die Hertzogville-, Dealesville- en Boshof-distrikte, wat op 'n rampsituasie afstuur, te monitor. Johan Breytenbach van die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging (FSUFPA), sê verskeie regeringsdepartemente en ander belanghebbendes is aan boord. Breytenbach sê daar is in die komende vyf dae steeds 'n hoë risiko vir wegholbrande. Die brandgevaar is groot in die westelike, sentrale en suidelike gedeeltes van die Vrystaat, met warm en winderigte toestande wat kan voorkom. Hy sê daar is ook baie biomassa, wat uitgedroogde gras en blare met 'n lae voginhoud insluit, en dít is vlambaar.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.