On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Agri NK sien landbou as 'ekonomiese dryfveer'

───   ELSABÉ RICHARD 12:48 Wed, 28 Oct 2020

Landbounuus-podcast: Agri NK sien landbou as 'ekonomiese dryfveer' | News Article
Nicol Jansen. File image

Agri Noord-Kaap het Woensdag sy 41ste jaarkongres virtueel op sy Facebook-blad uitgesaai, met die tema ‘Landbou as ekonomiese dryfveer tot groei en herstel ná Covid-19'.


Nicol Jansen, wat weer as president van Agri Noord-Kaap aangekondig is, het in sy toespraak onder meer oor die kwessie van misdaad en plaasmoorde gepraat wat steeds 'n doring in die land se vlees is. Hy sê Suid-Afrikaners leef in 'n tyd wat die samelewing aanranding en moord as 'n wyse van konflikbestuur ervaar en waar die hoofmotief nie meer diefstal is nie. Hy voeg verder by dat aanhitsende en uitlokkende uitsprake deur politici op openbare platforms, soos sosiale media, bydra tot die verdeeldheid en polarisasie in die land.

Intussen sê die president van Agri Noord-Kaap, Nicol Jansen, die provinsie gaan steeds gebuk onder die droogte. Hy sê die Noord-Kaap het nog geen verligting ervaar sedert die begin van vanjaar se winter nie. Jansen sê egter die winterreënvalgebied het wel reën ontvang gedurende die winter, maar het ondergemiddelde reënval gerapporteer, en dus is 50% van die provinsie steeds in 'n rampdroogtegebied gehul. Hy sê hulp van die nasionale regering is in hierdie stadium beperk en hy verduidelik dat die organisasie al van Februarie vanjaar sukkel om R35,8 miljoen, wat aan die provinsie toegewys is, op plaaslike vlak te kry en sodoende die geld te versprei. Ten spyte daarvan, ontvang die organisasie wel ondersteuning van die provinsiale Departement van Landbou.

EN

Inwoners van die Noord-Kaap word versoek om aansoek te doen vir beskikbare staatsgrond in die provinsie. Dit kom nadat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, aangekondig het dat meer as 12 000 hektaar staatsgrond vir voorheen benadeeldes in die provinsie beskikbaar is. Die Noord-Kaapse LUR van landbou, omgewingsake, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Mase Manopole, sê die grond is geleë in die John Taolo Gaetsewe-streek, wat Kuruman insluit, maar enige kwalifiserende inwoner in die provinsie kan wel aansoek doen. Sy verduidelik dat vroue, jeugdiges en mense met gestremdhede sal voorkeur kry om grond vir landboudoeleindes te bekom. Die sluitingsdatum is 16 November 2020.



OFM-nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.